All Blacks besluit oor Cane, Foster

Die All Blacks se Ian Foster. Foto: Marty Melville/AFP.

Nieu-Seeland se rugbybase het hul groep vir die komende Rugbykampioenskap aangekondig. En in ’n neutedop hou Ian Foster steeds die afrigtersleisels vas, terwyl daar ook nog vertroue in Sam Cane se kapteinskapvermoë is.

Daar is vroeër wyd en syd in Nieu-Seelandse media berig dat Cane van die kapteinskap gestroop sou word ná die onlangse tuisreeksnederlaag teen die Iere.

Sam Whitelock sou glo die geskikte kandidaat gewees het om die All Blacks terug na die hoogtes van ouds te lei.

“Ek het vertroue in Sam Cane. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om die All Black-trui oor jou kop te trek en die spelers sal groter aanspreeklikheid moet aanvaar,” het Foster gesê.

Die beleërde afrigter moes ook hand in eie boesem steek. In die 24 toetse wat die All Blacks onder sy toesig gespeel het, het hulle reeds agt verloor.

“Daar was baie vrae oor my rol as hoofafrigter die afgelope paar weke,” het Foster gesê.

“Maar ek is sterk en beskik oor die nodige veerkragtigheid. Terselfdertyd het ek ’n goeie verstandhouding met die spelers.”

Hy glo ook dat die All Blacks steeds ’n rugbykrag is waarmee daar rekening gehou moet word.

“Die Rugbykampioenskap en die Bledisloe-beker bly ons hoofprioriteite. Dit is ons kans om vir ander spanne te wys wat in ons steek.”

Die Springbokke en die All Blacks speel op 6 Augustus in Mbombela (Nelspruit), waarna die aksie op 13 Augustus na Johannesburg sal verskuif.

All Blacks:

Voorspelers: Dane Coles, Samisoni Taukei’aho, Codie Taylor, Aidan Ross, George Bower, Nepo Laulala, Ofa Tu’ungafasi, Ethan de Groot, Angus Ta’avao, Scott Barrett, Brodie Retallick, Patrick Tuipulotu, Tupou Vaa’i, Sam Whitelock, Sam Cane (kaptein), Shannon Frizell, Akira Ioane, Dalton Papalii, Ardie Savea en Hoskins Sotutu.

Agterspelers: Finlay Christie, Folau Fakatava, Aaron Smith, Beauden Barrett, Richie Mo’unga, Stephen Perofeta, Jack Goodhue, David Havili, Rieko Ioane, Roger Tuivasa-Sheck, Quinn Tupaea, Jordie Barrett, Caleb Clarke, Leicester Fainga’anuku, Will Jordan en Sevu Reece.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.