All Blacks klop Wallabies in pylvak

(Foto: All Blacks)

Die donker wolke het saamgepak en dit het al liggies begin reën, maar steeds kon die Wallabies nie Dunedin se verloordroogte van 22 jaar teen die All Blacks in vanjaar se laaste Bledisloe-rugbytoets breek nie.

Die All Blacks het Saterdagoggend met 23 – 20 gewen nadat die Wallabies rustyd met 17 – 3 voor was.

Vir die twee afrigters, Ian Foster (All Blacks) en Eddie Jones (Wallabies), was dit die laaste kans om spelers vir oulaas te sif voordat hulle volgende week hul groepe vir die komende Wêreldbekertoernooie aanwys.

Foster het 12 veranderings aan die span aangebring wat die Wallabies verlede naweek in die laaste Rugbykampioenskaptoets in Melbourne met 38 – 7 geklop het.

Dit het byna geboemerang, want as Foster nie die skakelpaar Richie Mo’unga en Aaron Smith opgestuur het om Damian McKenzie (losskakel) en Finlay Christie (skrumskakel) te vervang nie, kon die Wallabies dalk gewen het.

Dit was juis Mo’unga wat komkommerkoel ʼn strafdoel in die 78ste minuut deur die pale geklits het wat aan die tuisspan sy 124ste oorwinning in 177 toetse tussen die lande besorg het.

Aan Wallaby-kant gaan daar sekerlik vrae gevra word oor die rol van die veteraanlosskakel Quade Cooper, wat in die tweede helfte opgestuur is om die veel jonger Carter Gordon te vervang.

Cooper het die bal op sy eie tienmeter-stippellyn aangeslaan (sonder te veel druk) toe die telling 20 elk was. Dit het tot ’n skrum en daaropvolgende strafskop gelei wat Mo’unga oorgeskop het en so die oorwinning verseël het.

Cooper lewer ’n baie groot bydrae van die veld af in die ontwikkeling van Gordon, maar hoe lank nog voordat hy finaal sy plek gaan afstaan? Hoeveel keer het hy nie al, veral in sy geboorteland Nieu-Seeland, nie die mas opgekom nie?

Die Wallabies, ondanks die nederlaag, was vir 60 minute vol passie, durf en vuur en dit was hul beste vertoning van die jaar. Jones weet nou watter spelers sal hul man kan staan in Frankryk, waar die Aussies in een van die makliker groepe saam met Wallis, Fidji, Georgië en Portugal sake uitspook.

Spelers soos Andre Kellaway, Mark Nawaqanitawase, Marike Koroibete, Samu Kerevi, Tate McDermott, Rob Valetini en Tom Hooper sal nie die span in die steek laat nie.

Maar die Wallabies se ooglopende gebreke, veral in die skrums en hul diepte, sal steeds onder die vergrootglas wees.

Vir die All Blacks het die veelsydige Will Jordan, Shaun Stevenson, Leicester Fainga’anuku, Samipeni Finau en Ardie Savea hul stempels deeglik afgedruk.

Daar sal egter kommer in die kamp wees oor die knie-/beenbesering wat Brodie Retallick opgedoen het.

Puntemakers: Nieu-Seeland 23 (3): Drieë: Shaun Stevenson, Samipeni Finau. Doelskoppe: Damian McKenzie, Richie Mo’unga. Strafdoele: McKenzie, Mo’unga (2).

Australië 20 (17): Drieë: Marika Koroibete, Tom Hooper. Doelskoppe: Carter Gordon (2). Strafdoele: Gordon, Quade Cooper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.