All Blacks-senter drie weke geskors

Anton Lienert-Brown. (Foto: Charly Triballeau/AFP)

Die Nieu-Seelandse senter Anton Lienert-Brown sal na verwagting minstens die eerste twee wedstryde van die Rugbykampioenskap misloop nadat hy Dinsdag ʼn skorsing van drie weke opgelê is.

Die 28-jarige Waikato Chiefs-agterspeler is Dinsdag deur ʼn dissiplinêre komitee van Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, geskors.

Dit volg nadat Lienert-Brown Saterdag tydens die SuperRugby Pacific-eindstryd die Canterbury Crusaders se vleuel, Dallas McLeod, gevaarlik getêkkel het.

Lienert-Brown het ʼn geel kaart vir dié duikslag gekry en sy span het boonop die wedstryd met 20–25 verloor.

Volgens die tugkomitee geld Lienert-Brown se skorsing tot 29 Julie.

Omdat die senter ook deel vorm van die All Blacks se span, sal hy die Kiwi’s se wedstryde teen Argentinië en Suid-Afrika op onderskeidelik 8 Julie en 15 Julie van die kantlyn moet aanskou.

Nieu-Seeland speel op 29 Julie in Melbourne teen Australië.

Lienert-Brown kan wel vir daardie wedstryde beskikbaar wees, sou hy besluit om ʼn Wêreldrugby-afrigtingsingrypingsprogram by te woon. Dié program sal sy skorsing met ʼn week verminder.

Gegewe die skorsing raak sy kanse egter al hoe minder om die All Blacks se hoofafrigter, Ian Foster, voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi te beïndruk.

Die All Blacks sal op 5 Augustus in Dunedin teen Australië kragte meet, pak Suid-Afrika dan in Londen op 25 Augustus en kom dan op 8 September teen Wêreldbeker-gasheerland Frankryk in Parys te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jack Russ1 ·

Ek twyfel sterk of dit sy kanse enigsins gaan beinvloed. Meeste afrigters weet reeds wie hulle gaan vat. Meeste van die opkomende wedstryde gaan wees om kombinasies te toets en bietjie te skaaf, maar sal nie groot veranderinge wees nie.

Onmoontlik om net in bietjie meer as 2 maande die span te wil uitsorteer. Spanne soos NZ weet al meer as ‘n jaar voor die kompetisie wie hulle wil vat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.