All Blacks ‘te voorspelbaar’ – Spencer

Die voormalige Nieu-Seelandse rugbygenie, Carlos Spencer. Foto: Damian Meyer/AFP.

Die All Blacks het die afgelope naweek harde bene gekou toe hulle Japan met 38–31 in ʼn eenmalige toetswedstryd in Tokio geklop het.

En volgens die voormalige rugbytowenaar Carlos Spencer loop die Kiwi’s die gevaar om te voorspelbaar op die aanval te word.

“Dit is ʼn groot frustrasie,” het die oudlosskakel op Sky Sport ná die wedstryd gesê.

“Ons moet probeer om ʼn bietjie meer innoverende spel op te dis; dit is tans hopeloos te direk. Trouens dink ek dat die span se ingesteldheid nie reg is nie. Wanneer jy ná 30 minute se spel iets probeer en dit nie werk nie, moet jy op jou voete kan dink en met ʼn ander idee vorendag kom.”

Intussen het die Nieu-Seelandse rugbybase bevestig dat Sam Whitelock die kapteinskapleisels by Sam Cane sal oorneem nadat die flank sy wangbeen in die wedstryd teen Japan gebreek het.

“Sam Whitelock sal die kaptein van die All Blacks op hul toer na die Noordelike Halfrond wees, terwyl Ardie Savea en Beauden Barrett ook leierskaprolle sal vertolk,” het Jason Ryan (voorspeler-afrigter) gesê.

Nieu-Seeland se Sam Whitelock. Foto: Andrew Cornaga/AFP.

Volgens Ryan is Whitelock die beste kandidaat om Cane se skoene vol te staan – hy het die All Blacks in meer as 100 toetse verteenwoordig en hy word deur sy spanmaats gerespekteer.

Die ervare slot het die All Blacks aangevoer toe hulle in September die Wallabies met 41–14 op Edenpark verrinneweer het.

Volgens Barrett staan Whitelock en Cane se kapteinskapstyle in kontras met mekaar.

“Sam Whitelock speel al vir jare rugby en hy het baie ervaring en stories. Hy lei ’n span deur sy voorbereiding en die wyse waarop hy op die veld vertoon,” het die flinke agterspeler gesê.

“Daarteenoor is Sam Cane se leierskap baie anders. Ja, hy stel steeds ’n voorbeeld op die veld, maar kommunikasie is sy groot sterk punt en hy geniet die ondersteuning van die span se leierskorps.”

Die All Blacks speel Saterdag teen Wallis in Cardiff, waarna toetse teen Skotland en Engeland ook op hulle wag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.