‘Altyd goed om teen Bokke te skrum,’ sê All Blacks-stut

Joe Moody het ’n beter All Blacks-skrumvertoning beloof. Foto: Twitter.

Die Springbok-voorspelers is altyd ’n krag waarmee daar rekening gehou moet word en oudergewoonte het hulle hul deel in die afgelope toets teen die All Blacks gedoen.

En volgens Joe Moody, die All Blacks se vaskopstut, is dit ’n besondere uitdaging om teen die Suid-Afrikaners te skrum.

Die Springbokke se vaskopstut het byvoorbeeld gereeld die teenstanders se haker in sy visier, terwyl hul invalshoeke ook uniek is.

“Dit is altyd goed om teen die Bokke te skrum. Hulle is groot en sterk ouens, terwyl hulle tegniekgewys jou op jou tone hou,” het Moody gesê.

Daar was Saterdag 12 skrums in Townsville en die Springbokke het ’n paar strafskoppe teen die All Blacks afgedwing.

Die 33-jarige Moody – wat 1,88 m lank is en 112 kg weeg – het egter beloof dat die Kiwi-skrum hom beter van sy taak in die komende toets sal kwyt. Terselfdertyd glo hy dat die All Blacks soms bra ongelukkig was om deur die skeidsregter gestraf te word.

“Sulke dinge gebeur egter en as ’n skrumeenheid moet jy daarby kan aanpas. Enige span wat suksesvol by ’n skeidsregter se interpretasie van die reëls aanpas, sal die septer in die skrums swaai. Maar van ons kant is daar ongetwyfeld baie ruimte vir verbetering.”

Hy was ook ontevrede dat die wedstryd gereeld onderbreek is.

“Ek het skaars begin sweet. Dit het naderhand gevoel of iemand by elke skrumgeleentheid ’n besering opgedoen het; dit sal goed wees as dit (onnodige tydmors) hierdie naweek aandag kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daan ·

Kan ons vir die hele week net lees van die bokkie en Al blacks. Wat het van die ander rugby geword in Europa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.