Appèlkomitee skors Farrell

Engeland se Owen Farrell. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

Owen Farrell sal twee van sy span se Wêreldbeker-wedstryde misloop nadat Wêreldrugby teen sy aanvanklike rooikaart-kwytskelding geappelleer het.

Die Engeland-losskakel se têkkeltegniek was weer eens onder die vergrootglas nadat hy kontak met Taine Basham se kop in ʼn wedstryd teen Wallis op Twickenham gemaak het.

ʼn Uitwyspaneel het – sommer so terwyl die spel aan die gang is – beslis dat die oortreding ʼn rooi kaart regverdig.

ʼn Onafhanklike Sesnasiesrugby-komitee, bestaande uit Adam Casselden, John Langford en David Croft (almal Aussies), het egter later die straf na ʼn geel kaart afgegradeer en Wêreldrugby het terstond teen dié besluit appèl aangeteken.

Die appèlverhoor het Dinsdag plaasgevind en die besluit om die speler vir vier wedstryde te skors was eenparig.

Die beslissing beteken dat die 31-jarige Farrell onder meer Engeland se laaste opwarmingswedstryd teen Fidji sal misloop, terwyl hy ook die Wêreldbeker-aksie teen Argentinië en Japan van langs die kantlyn moet dophou.

Volgens Nieu-Seeland se Nigel Hampton (tugkomiteevoorsitter) moes die aanvanklike tugverhoor meer aandag gegee het aan Farrell se gebrekkige poging om sy arms om Basham te slaan (wrap).

“Dit was glad nie ʼn besprekingspunt in die oorspronklike tugverhoor nie. Dit was ʼn belangrike element in die wedstrydhersieningsbeampte se verslag wat tot die aanvanklike rooi kaart tydens die kragmeting gelei het.

“Die appèlkomitee is dus van mening dat die dissiplinêre komitee se besluit om die rooi kaart na ʼn geel kaart af te gradeer verkeerd is.”

Wêreldrugby het intussen aangekondig die “bunker”-sisteem, waarvolgens ‘n uitwyspaneel tydens die wedstryd besluit hoe ernstig ‘n speler se oortreding is, sal ook vir vanjaar se Wêreldbeker geld.

Farrell was nie deel van Steve Borthwick se wedstrydgroep teen Ierland nie en die komitee het beslis dat dié kragmeting deel van Farrell se skorsing sal uitmaak.

Dit is nie die eerste keer dat Farrell se têkkeltegniek bevraagteken word nie.

Hy het in 2018 vir André Esterhuizen blatant met die skouer op Twickenham geloop sonder om sy arms te gebruik, terwyl hy in 2020 die 18-jarige Charlie Atkinson op ʼn uiters gevaarlike wyse platgetrek het.

“Hy probeer altyd om iemand hard te têkkel en hy doen dit gereeld hoog,” was Andy Goode, gewese Engeland-losskakel, se kommentaar.

  • Wedstryde waarvoor Farrell geskors is:

19 Augustus: Engeland teen Ierland

26 Augustus: Engeland teen Fidji

9 September: Engeland teen Argentinië (Wêreldbeker)

17 September: Engeland teen Japan (Wêreldbeker).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mnr De Beer ·

Ek braai nogal toevallig vanaand. Het boonop iets om te seevier.

kragaap ·

Stem, ons kan enetjie drink op die uitslag. Die ou is die koning van vuilspel en dan nog arrogant ook.

Kobus ·

Verstaan nie hoe ‘n paneel uit net een unie verteenwoordig word nie.

JN ·

Nie genoeg nie!!!
Nie eens vreemd dat die dom pommie wat beskerm word deur die IRB amper skotvry daarvan afgekom het nie!!
Weer eens wys dit na sy skuldig bevinding vir net n twee week straf???
N Bok sou teminste 4 weke gekry het!!!
Hy is n gewoonte geniepsige misdadirger…
Te minste is die oog op hom..lekker man!!!

Witbaard ·

Lekker kry ek nou. Hoop hulle hou hom fyn dop in die wereldbeker ook. Geen respek vir vuil spelers nie. (Wel vir harde spelers)

Niklaas ·

Mag hierdie straf vir Mnr Arrogant ‘n les en voorbeeld wees vir talle ander vuil spelers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.