Argentynse toets ʼn goeie kleedrepetisie vir WB-druk

Steven Kitshoff in aksie teen Argentinië op Ellispark. (Foto: GB Jordaan)

Argentinië het so byna vir ʼn opskudding in die laaste Rugbykampioenskap-wedstryd van 2023 gesorg.

Toegegee, die Suid-Amerikaners is lank reeds nie meer kanonvoer nie en hulle kan ongetwyfeld belangrike wedstryde weg van die huis wen, maar die Springbokke behoort mos oorgenoeg skietgoed op die ikoniese Ellispark te hê, of hoe?

Tog moes die Bokke veral in die tweede helfte bontstaan om die vurige Argentyne weg van hul doellyn te hou. Damian de Allende se geel kaart het dinge verder bemoeilik, maar toe die eindfluitjie uiteindelik blaas, het hulle met 22–21 gewen.

Jacques Nienaber meen dat die kragmeting ʼn goeie kleedrepetisie vir die komende Wêreldbeker-toernooi in Frankryk is.

“Ons gaan in soortgelyke situasies by die Wêreldbeker wees en die manier waarop Duane (Vermeulen) dinge ná die geel kaart hanteer het, was baie goed,” het die Springbok-afrigter gesê.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Volgens Nienaber is hy tevrede met die wyse waarop sy spelers hul man op verdediging gestaan het. Ja, daar was ʼn paar tegniese en taktiese foute, maar dit kan reggestel word.

“Dit was hoegenaamd nie die mooiste kragmeting nie, maar dit is goed dat ons diep moes delf om ʼn wedstryd te wen.”

Die Springbok-bestuur het ʼn groep van 26 spelers gekies om na Argentinië te reis vir volgende naweek se Wêreldbeker-voorbereidingswedstryd in Buenos Aires.

Evan Roos, Jean Kleyn, Jean-Luc du Preez en Joseph Dweba tel onder die voorspelers, terwyl Herschel Jantjies en André Esterhuizen speelkans in die agterlyn kan kry.

“Dit sal die laaste geleentheid vir die spelers wees om hul kleim af te steek voordat die Wêreldbeker-groep aangekondig word en ons is opgewonde oor die vooruitsig.”

Hy het egter gewaarsku dat die Argentyne met selfs meer passie voor hul tuisskare sal speel.

“Dit beloof om nie net ʼn fisieke toets vir die spelers te wees nie, maar ook ʼn geestelike uitdaging. Argentinië geniet ongelooflike steun van hul tuisskare.”

Springbok-span na Argentinië:

Voorspelers: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Gerhard Steenekamp, Trevor Nyakane, Bongi Mbonambi, Joseph Dweba, Lood de Jager, Jean Kleyn, Marvin Orie, Jean-Luc du Preez, Evan Roos, Jasper Wiese, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Jaden Hendrikse, Herschel Jantjies, Cobus Reinach, Manie Libbok, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Jesse Kriel, Makazole Mapimpi, Canan Moodie, Kurt-Lee Arendse en Damian Willemse.

Spelers wat in Suid-Afrika agterbly:

Voorspelers: Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Ox Nche, Kwagga Smit, RG Snyman, Marco van Staden en Duane Vermeulen.

Agterspelers: Damian de Allende, Faf de Klerk, Cheslin Kolbe, Willie le Roux, Handré Pollard en Grant Williams.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

piet ·

Swak vertoning van die leierlose Bokke. Baie gelukkig om daai wedstryd te wen. Kaptein Kolisi sal baie vinnig moet terugkeer om hierdie drywende wrak te red want die huidige tendens is afwaarts, Daar was net geen leierskap teen die einde van die wedstryd nie en alles het uitmekaar geval, As daai wedstryd ‘n minuut langer was, het ons verloor.

kragaap ·

Al was jou kaptein fiks sou hy vanaf 55 min op die bankie gerus het soos hy gewoonlik doen terwyl sy spanmaats aanhou veg. Swak vertoning gaan soek die probleme in die agterlyn. Mikro vleuels was glad nie teenwoordig nie.

De Villiers ·

Piet, Kolisi gaan nie betyds fiks wees nie, aanvaar dit maar so.

kragaap ·

Al is hy “fiks” sy spelpatroon is ‘n groot kommer. Teen top 5 toets spanne maak hy bitter min ‘n impak op die veld selfs spelers in die groter leierskap groep doen meer praat en speel werk. Op 55 min soos klokslag is dit bankie toe want dis te hard daar voor. Dan moet manne soos Duane, Kwagga, Eben en Pieter Stef die vuur stook.

piet ·

Ek sien kaptein Kolisi is in die wedstrydgroep vir Saterdag se wedstryd, dankie tog. Hy sal seker nie speel nie maar kan darem seker die leierlose spulletjie vooraf motiveer. Die ander probleem is diepte. Kyk nou spelers soos Van Staden, goed op provinsiale vlak maar nie ‘n faktor op toetsvlak nie. Vermeulen is half oor die muur en so kan ons aangaan…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.