Barnes: ‘Bokke is wêreldkampioen, maar nie wêreld se beste’

Jasper Wiese en Lood de Jager op die aanval teen Wallis. Foto: GB Jordaan.

Die voormalige Engeland-losskakel Stuart Barnes het al gereeld sy misnoeë met Suid-Afrikaanse rugby te kenne gegee. En sy rubriek in The Times is ongetwyfeld die platform vanwaar hy sy aanvalle lanseer.

Hy het sy jongste skryfstuk met ’n kort stelling begin: “Die wêreldkampioenspan is beslis nie die beste span nie.”

Barnes meen dat die Springbokke nie ’n kat se kans teen Frankryk sal staan as die Wêreldbeker-toernooi vandag sou begin nie.

“Die Springbokke is verkneg aan die spelpatroon wat Engeland in die Wêreldbeker-eindstryd oorrompel het, maar wat in die halfeindstryd teen Wallis gesukkel het om aan die gang te kom,” het Barnes geskryf.

Hy het ook daarop gesinspeel dat die Suid-Afrikaners se Wêreldbeker-triomf nie so ’n glansryke storie is as wat ’n mens dink nie.

“Hulle is ook in die groepfase deur die All Blacks ore aangesit – ’n span wat waarskynlik die Webb Ellis-trofee omhoog sou gehou het as dit nie vir Engeland was nie.”

Volgens Barnes beskik die Springbokke oor die gevaarlikste pak voorspelers in wêreldrugby, terwyl die agterlyn ook saam met die bestes kan gesels.

Hy meen egter daar was in die onlangse reeks teen die Rooi Drake ’n leemte op agtsteman, skrumskakel en losskakel – drie van die belangrikste besluitnemers op die rugbyveld.

Jasper Wiese kan glo enige span met sy stormlopies onder druk plaas, maar daar is geen subtiele variasies by sy spel te bespeur nie.

Dan maak die Springbokke te veel staat op Faf de Klerk, terwyl iemand soos Elton Jantjies nie die mas op toetsvlak opkom nie.

“Jantjies is ’n talentvolle speler, maar hy het nie die temperament om op toetsvlak die no. 10-trui te dra nie. Hy het al meer as genoeg geleenthede gehad.”

Terselfdertyd is Handré Pollard ook nie meer die speler van ouds nie.

“Hy is ’n sterk speler wat die bal goed kan dra, maar deesdae is die eerste gedagte wat by hom opkom om die bal hoog en oor die veld te skop.”

Tog glo baie ontleders dat die Springbokke oor genoeg skietgoed beskik om met die All Blacks in die komende Rugbykampioenskap-wedstryde af te reken.

“Die Springbokke handhaaf ’n goeie balans sedert die vorige Wêreldbeker-toernooi. Hulle het nuwe spelers ’n geleentheid gegee, terwyl Damian Willemse ook na ’n rugbykrag begin lyk. Terselfdertyd het iemand soos Handré Pollard net weer eens die waarde van ervaring onderstreep,” het die Nieu-Seelandse joernalis Ross Karl gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Barnes se uitsprake oor die 2019 RWB is maar bloot “as is verbrande hout”… Oor vandag se realiteite is Barnes egter nie verkeerd nie. Baie water sal onder die brug moet deur alvorens die Springbokke in volgende jaar se RWB weer ‘n titel sou wou inpalm. Daar is verseker ‘n probleem op 8,9 en 10 en ek het ‘n vermoede die All Blacks gaan ons lelik seermaak in die komende reeks.

Rjyan ·

Daar is verseker genoeg 8, s en 9,s tien dalk n probleem maar ons gaan verras word ek dink Johan Goosen gaan ook nader kom as n 10

Hennie ·

Barnes se uitsprake oor 2019 RWB is maar net suur druiwe. As die ALL BLACKS n probleem uitwys oor 2 naweke kan ons weer praat. Pollard is nog steeds die man in die saal so wie wil hulle insit. JANTJIES….. ASB

Niklaas ·

Barnes kon nog nooit enige goeie woordjie oor SA uiter nie. As die Bokke op Mbombela/ Nelspruit stadion die ABs klop , sal ek vreeslik graag sy uitlating s dan wil aanhoor.

Manie ·

Stuart Barnes moet dalk meer bekommerd wees oor Engeland se flou spannetjie wat lelik op hulle neuse gekyk het die laaste tyd. Sien julle volgende jaar.

N ·

Net soos niemand die bokke n kans gegee het in die 2019 wereld beker nie. O ja en Mr Barnes, die bokke het verlede jaar die Britse leeus, wat bestaan uit jou vorige span Engeland, Wallis, Skotland en Ierland se top spelers.

N ·

Wat maak Barnes se opinie soveel beter as enige ander vorige rugby speler sin? En het hy n wereld beker agter sy naam?

Harley Davidson ·

Ek stem die all blacks sal hulle slae gee onthou die all blacks is ‘n regte span gekies net op meriete.

Spearhead ·

Barnes is reg met sy opsomming. Die springbokke speel op die oomblik maar vevelige skop rugby. Ons bokke hou van skop en onsself dan op verdedigig plaas.
Ek stem saam dat Jantjies nie die mas opkom as no 10 nie. So ook nie Kolisi nie. Faf skop elke bal weg wat die voorspelers hard voor gewerk het. Willemse verdien sy plek met gemak.
Ons behoord goed te vaar in die komende WB.

MakersMark ·

Ha ha tipies, engelse klop Australie nou is hul op die rand van die volgende wêreld beker. Barnes nou nog suur oor daai liederlike loesing in Japan.

piet ·

Wel, Engeland kon iets doen waarvan die Bokke net kan droom..om vir Aus tweekeer namekaar in Aus te klop. Ons kan dit nie eers eenkeer regkry nie. Ons rekord in Aus is om van naar te word.

MakersMark ·

Bokke het 3 wereldbekers. England 1. In 2 finale het bokke hul 2 keer geklop. Hulle droom daarvan ook….

piet ·

Maar hoekom kan ons nie vir Aus daar klop nie? My wenslys is dat ons vir Aus gereeld daar klop en ek sal tevrede wees as ons die AB’s so elke derde probeerslag in NS kan klop (of selfs dit in SA kan regkry). Natuurlik moet ons teen NIEMAND in SA probeer verloor nie. Dit was nog altyd die verskil tussen NS en ons. Hulle vaar BAIE beter weg van die huis af. Vir my wys dit werklike topkwaliteit.

Rjyan ·

Ek is regtig siek en sat van die Engelse wat net met die bokke n probleem het ,wat is hy met ons en Frankyk te doen ,hoekom kyk hy nie of sy Engelse span wat met n onderskep drie vir Australie gewen het in die laaste toets vir Frankryk kan wen nie, los ons uit ,England sal nie volgende jaar die worldcup wen nie hulle het nie die skiet krag nie , ek het nog nooit gesien mense kan so bitter wees teenoor n ander land nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.