Barnes maar skepties oor SA’ners in Europa

Foto: GB Jordaan.

Die voormalige Engeland-losskakel Stuart Barnes het in een van sy Sunday Times-rubrieke sy misnoeë met Suid-Afrikaanse rugbyspanne in Europa te kenne gegee.

Die Stormers (tweede), Bulls (vierde) en Sharks (vyfde) het uitstekend in die groepfase van die Verenigde Rugbykampioenskap gevaar en ’n plek in die Europese Kampioenebeker wink vir dié plaaslike spanne.

“Van die eerste toernooi af – toe Toulouse destyds vir Cardiff in 1996 geklop het – word die reeks deur die feit gekenmerk dat die uiteindelike wenners as die kampioenspan van Europa erken word. Dit is nie meer die geval nie,” het Barnes geskryf.

“Daar gaan nou drie Suid-Afrikaanse spanne in ’n toernooi speel wat veronderstel is om die beste span in Europa te bepaal.”

Volgens Barnes is “verwronge” dalk die beste woord om dié stand van sake te beskryf; so amper asof Kaizer Chiefs nou saam met Manchester United en Barcelona in aksie is.

“Die Europese Kampioenebeker is geskiedenis. Die krag van die Heineken-beker het in die vurige wedywering tussen klubs, provinsies en lande gelê. Dit is ’n geleentheid vir ondersteuners om hul spanne na ander lande te volg. Gaan dieselfde aantal toeskouers die tog van Limerick na Pretoria aanpak?”

Die moontlikheid bestaan ook dat ’n eindstryd in Johannesburg of Kaapstad beslis kan word; dalk boonop tussen twee Suid-Afrikaanse spanne.

“’n Geliefde toernooi waarmee Europese spanne hulself vereenselwig word ’n geografiese deurmekaarspul.”

Dit is nie die eerste keer dat Barnes oor Suid-Afrikaanse rugby kla nie – hy was verlede jaar baie krities oor die Springbokke se spelpatroon.

Hoewel hy baie waardering vir die Bokke se durf en toewyding het, het hy nogtans die All Blacks gevra om wêreldrugby van die Suid-Afrikaners se konserwatiewe benadering te kom red.

“Verdediging is die Springbokke se hoofprioriteit en in hul strewe om nie noodwendig die beste te wees nie, maar om die beste te klop, het hulle ’n tree in die verkeerde rigting gegee,” het Barnes geskryf.

Tog beskou hy vir Rassie Erasmus as een van die beste afrigters nóg.

“In twee jaar het Erasmus die Springbokke verander van ’n span wat met ’n gemiddelde loesing van 32 punte teen Nieu-Seeland verloor het, tot een wat die Wêreldbeker in ’n ongelooflike vertoning gewen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boksombende ·

Blah blah blah. Hou op kla en en speel beter. Suur drywe.

hendrie ·

Barnes en die Engelse sal nooit Suid Afrikaanse spanne se oorwinnings teen wie ookal, positief ervaar nie. Die Bokke het die spul soute die afgelope paar jaar lekker bloedneus gegee.
In Japan toe hulle na ‘n vloekskoot teen die AB’s, ‘n liederlike pakslae tydens die WB van die Bokke ontvang het. Om nie eers van die wenende leeutjies se onlangse ondergang in die RSA te praaaat nie.
Kry vi’ dijlle!

Niklaas ·

Was hy nie die knaap wat voorheen al so uitgevaar het teen SA en die Bokke nie ? Duidelik is hy nie ons grootste ondersteuner nie.

Michael ·

Hy is reg SA hoort nie in ‘n toernooi om die beste span in Europa te bepaal nie. Net so belaglik soos om Europese spanne in ons Curriebekerreeks te laat speel

Hennie Biebouw ·

As jy die meriete van sy argument oordeel, het hy ‘n punt beet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.