Blink toekoms wag op Moodie

Suid-Afrika se Canan Moodie. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Op 21-jarige ouderdom het Canan Moodie reeds 5 drieë in sy tien Springbok-toetse gedruk, terwyl hy ook met ʼn Wêreldbeker-wennersmedalje spog.

O ja – dan is hy Donderdag as Suid-Afrika se jong speler van die jaar aangewys. Vir die tweede keer op ʼn streep.

Moodie is ongetwyfeld ʼn speler vir die toekoms; ʼn blink diamant wat nog diep spore in Suid-Afrikaanse rugby gaan trap.

Die lenige agterspeler het al gewys dat hy kan speel waar sy span hom nodig het.

Hy was André Esterhuizen se sentermaat in die Springbokke se Twickenham-triomf teen die All Blacks nadat hy skaars die week vantevore ʼn speler van die wedstryd-vertoning in die no. 14-trui teen Wallis in Cardiff gelewer het.

Moodie se vaart, fyn aanvoeling vir die spel en visie op die rugbyveld beteken dat hy maklik die sprong tussen dié posisies kan maak.

Daar word deesdae baie in die media gepraat oor die Suid-Afrikaners se aanpasbaarheid op die rugbyveld. Die Bokke kan nie bekostig om vas te klou aan vorige suksesse terwyl die res van die rugbywêreld aanbeweeg nie.

Kreatiewe en innoverende spel is dus die wagwoorde. En in Canan Moodie spog Suid-Afrika met ʼn speler wat ongetwyfeld oor die X-faktor beskik.

Iemand wat ʼn driedrukpoging uit niks kan skep, die bal uit die lug voor sy teenstander se neus kan wegpluk en ʼn speler wat met sy flinke voetwerk links, regs en vorentoe kan trap.

 

Dit is ʼn jammerte dat sy zoep-zap-en-zirts-drie nie destyds teen Nieu-Seeland toegelaat is nie. Hy het toe met sy pypkanvaardighede die All Blacks-verdedigers na laerskoolspelers laat lyk.

Maar daar wag nog baie soortgelyke oomblikke op Canan Moodie.

Kolbe se Ramos-fnuiksessie ook beloon

Cheslin Kolbe se briljante stormlopie om Thomas Ramos se stelskoppoging in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker te fnuik, is ook Donderdag by SA Rugby se toekenningsgeleentheid beloon.

Peato Mauvaka het destyds pas die Fransmanne se tweede drie van die wedstryd gedruk en Ramos het agter die skopkelkie aangetree, ʼn keer na die teiken geloer en met sy seepgladde aksie na die pale laat waai.

Hy het egter nie rekening met die vlieënde Kolbe gehou nie en die Suid-Afrikaanse buksblits het soos ʼn koeël uit ʼn geweerloop weggetrek en met sy arms omhoog in die lug gespring om die Franse heelagter se skoppoging te fnuik.

Almal weet dat só ʼn afstormlopie moontlik is, maar bitter min het dit al ooit regstreeks op enige rugbyveld gesien. Om dan nie eens van die Stade de France in ʼn Wêreldbeker-kwarteindstryd te praat nie.

In ʼn wedstryd wat Suid-Afrika met ʼn enkele punt gewen het, was Kolbe se dapperheid en vaardigheid deurslaggewend.

Vir dié lopie is die blitsige vleuel die ontvanger van ʼn ondersteunerstoekenning: Dit was plaaslike rugbyliefhebbers se gunstelingoomblik op die speelveld in 2023.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

kragaap ·

Uitstekende speler, groot toekoms in die groen en goud. Toekenning is welverdiend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.