Blitsbokke maak staat op ‘vars bene’ in Perth

Quewin Nortjé is een van die Blitsbokke se agterspelers. (Foto: Hansie Linde)

Die volgende toernooi van die HSBC-sewesreeks begin Vrydag in Perth en die Blitsbokke sal op ʼn beter vertoning as in Kaapstad hoop.

Die Suid-Afrikaanse sewesspan is in dieselfde groep as Kanada en Spanje, maar hul finale groepwedstryd teen Argentinië kan deurslaggewend wees.

Die vlieënde Argentyne het die Kaapstad-toernooi op ʼn drafstap gewen en hulle is die perfekte teenstanders om jou vordering – of seker dan ook die gebrek daaraan – teen te meet.

Sandile Ngcobo, afrigter, steun op ʼn paar opwindende jong spelers om die momentumskaal weer in die Suid-Afrikaners se guns te swaai.

Vyftienmansterre soos David Brits en Tristan Leyds is by die groep ingesluit.

Brits het verlede jaar die Curriebeker saam met die Vrystaat Cheetahs omhoog gehou, terwyl Leyds se ouer broer, Dillyn, al in tien wedstryde vir die Springbokke gespeel het.

“Ons het op vars bene vir dié toernooi besluit en ons het ʼn baie vinnige span gekies,” het Ngcobo gesê.

“David en Tristan is weliswaar nog sewesgroentjies, maar hulle het vyftienmanrugby op ʼn baie hoë vlak gespeel en hulle beskik oor goeie rugbykennis. Daarbenewens het hulle ook reeds op die oefenveld gewys dat hulle ook suksesvol in die blitsformaat van die spel kan wees.”

Op sy beurt het Brits gesê dat hy oorgehaal is om ’n sukses van sy skuif te maak.

“Ek is mal oor ’n uitdaging en ek wil graag hierdie naweek tot die span se sukses bydra. Ons beskik oor vinnige spelers en dit is my taak om die nodige geleenthede vir hulle te skep sodat hulle daardie vaardighede kan uitstal,” het hy gesê.

Die Blitsbok-groep vir die Perth-toernooi. (Foto: X/Blitsbokke)

Blitsbokke: Ryan Oosthuizen, Zain Davids, James Murphy, Masande Mtshali, David Brits, Katlego Letebele, Ronald Brown, Selvyn Davids (kaptein), Ricardo Duarttee, Tristan Leyds, Shilton van Wyk, Quewin Nortjé en Donovan Don.

Perth-bepalings:

Vrydag:

06:44: Suid-Afrika teen Kanada

12:22: Suid-Afrika teen Spanje

Saterdag:

06:38: Suid-Afrika teen Argentinië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.