Blitsbokke weer gereed vir ʼn tikkie ‘Specmagic’

Rosko Specman tydens ‘n vorige Blitsbokke-wedstryd (Foto: GB Jordaan)

Die Blitsbok-groep vir die komende Dubai-sewestoernooi is bekendgemaak en Selvyn Davids sal die span se kapteinskapleisels vashou.

Die vlugvoetige speler, wat reeds in 29 toernooie vir die Suid-Afrikaanse sewesspan uitgedraf het, is aan die stuur van ʼn span wat oor ervare staatmakers soos Ryan Oosthuizen en Justin Geduld beskik, terwyl daar ook ʼn paar groentjies in die toergroep is.

Quewin Nortjé en Katlego Letebele kan hul internasionale sewesbuiging in die Verenigde Arabiese Emirate maak.

Boonop is “Specmagic” – Rosko Specman – ook weer terug in die span en selfs op 34-jarige ouderdom beskik hy oor genoeg woema om teenstanders na lug te laat gryp.

Gereelde kaptein Siviwe “Shakes” Soyizwapi se kniebesering beteken dat hy eers weer volgende jaar deel van die aksie sal wees.

Volgens Davids, wat die 22ste Blitsbok-kaptein word, is dit ʼn groot eer en verantwoordelikheid om die span te lei.

“Die Blitsbokke is ʼn baie belangrike skakel in my lewe en met Siviwe wat so lank op die krukkelys is, is dit vir my ʼn eer om die span aan te voer. Ek geniet die steun van die leierskapgroep en nou kan ons gereedmaak om Samoa in die openingswedstryd aan te vat,” het die 29-jarige speler gesê.

Suid-Afrika is in Groep A van die Dubai-sewestoernooi ingedeel en benewens Samoa speel hulle ook volgende Saterdag teen Kanada en Nieu-Seeland.

Blitsbok-groep vir Dubai: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Katlego Letebele, Masande Mtshali, Ronald Brown, Selvyn Davids, Dewald Human, Justin Geduld, Shilton van Wyk, Rosko Specman en Quewin Nortjé.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.