Blitsbokke wen, maar swaai byna houtlepel

Zain Davids het twee drieë teen Kanada gedruk. (Foto: X/Blitsbokke)

Die Blitsbokke het vir Kanada in hul finale wedstryd van die Los Angeles-sewestoernooi met 28–15 geklop.

Zain Davids het twee keer die Kanadese verdediging geflous, terwyl Ryan Oosthuizen en Tristan Leyds ook drieë gedruk het.

Maar hokaai net eers ʼn bietjie voordat jy die strykorkes wil bel om dié oorwinning te vier: Die wedstryd was in ʼn stryd om die 11de plek gewees.

Dus, om dinge vinnig in perspektief te plaas – Suid-Afrika het van die bekerwenners in Dubai na die tweede swakste plek in Los Angeles geval.

Die span is tans sewende op die amptelike HSBC-punteleer nadat hulle nou net twee ligapunte ingeoes het.

Vroue verloor teen VSA en Frankryk, maar maak punteleersprong

Dan het die Suid-Afrikaanse vrouespan weliswaar die kwarteindstrydontmoeting met die VSA verloor, maar die spelers verdien nogtans ʼn klop op die skouer vir hul vertoning in aanloop tot die kragmeting.

Suid-Afrika het onder meer met Fidji en Brasilië afgereken voordat dinge teen die Amerikaners en later Frankryk ontrafel het.

Die kwarteindstryd-telling was 24–5 in die VSA se guns, terwyl hulle met 53 – 0 deur Frankryk in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek verrinneweer is.

Die Suid-Afrikaners het egter tien punte in Los Angeles verwerf en hulle beklee tans die tiende plek op die amptelike ranglys.

Hulle beskik ongetwyfeld oor die wil om te wen, maar ʼn bietjie bykomende spoed sal beslis geen skade doen nie.

  • HSBC-punteleer:

Mans:

  1. Argentinië: 90 punte
  2. Ierland: 70 punte
  3. Fidji: 64 punte
  4. Frankryk: 56 punte
  5. Australië: 55 punte
  6. Nieu-Seeland: 53 punte
  7. Suid-Afrika: 48 punte
  8. VSA: 36 punte
  9. Groot-Brittanje: 35 punte
  10. Spanje: 27 punte
  11. Samoa: 24 punte
  12. Kanada: 12 punte

Vroue:

  1. Australië: 90 punte
  2. Nieu-Seeland: 86 punte
  3. Frankryk: 74 punte
  4. VSA: 64 punte
  5. Kanada: 62 punte
  6. Ierland: 48 punte
  7. Fidji: 42 punte
  8. Groot-Brittanje: 29 punte
  9. Brasilië: 28 punte
  10. Suid-Afrika: 18 punte
  11. Japan: 16 punte
  12. Spanje: 13 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ore ·

Dit verbaas my hoe die afrigters / kaptein’s na sulke vernederings sê “ons het baie geleer” Hoe leer jy as jy oorhoops vertoon? Is spelers nie veronderstel om klaar tydens oefensessies te “leer” nie?

mattk ·

Dit is net te wonderlik hoe hulle in vyf rondtes vanaf die eerste plek (Dubai) tot die sewende plek (LA) geval het. Hulle het dus wel geleer dat daar iewers groot fout is, maar weet beslis nie wat dit is nie. Miskien moet die afrigter maar gepos word, maar nee, in alle sport, behalwe sokker, moet ons mos deesdae onder politieke druk swig om polities korrek te wees.

piet ·

Ek se weer, daai kompetisie is nou so sterk soos dit nog nooit was nie. Spanje (11de) gekeur) van alle spanne het byvoorbeeld in die halfeindstryd gespeel nadat hulle vir Fiji geklop het. NZ het net soos ons nie eers die kwarteinstryd gehaal nie. Hulle het 9nde klaar gemaak. Bygese, daar is van die blitsbokke wat oor die muur is. Geduld en Specman kan maar plek maak vir nuwe talent. Hierdie spn kan maar vergeet van ‘n Olimpiese medalje.

Casper ·

Piet,Specman speel nou vir die bulle en nie vir die blitzbokke nie.Die afrigter moet verantwoordelikheid aanvaar vir die powere vertonings maar die afrigter kan nie aanslane en geelkaarte voorkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.