Blitsbokke wil sake in Londen regruk

Die Blitsbokke speel die naweek teen Groot-Brittanje, die VSA en Nieu-Seeland in Londen. (Foto: Twitter/Blitsbokke)

Ná nog ʼn teleurstellende sewestoernooi – dié keer in Toulouse – hang die Blitsbokke se direkte kwalifiseringspad vir die Olimpiese Spele aan ʼn dun draadjie.

Die span sal hierdie naweek deksels goed in Londen moet vaar as hulle vir die internasionale sportskouspel in Parys wil kwalifiseer.

Vier spanne – Nieu-Seeland, Frankryk, Argentinië en Fidji – het reeds deurgedring, terwyl Suid-Afrika, Samoa en Australië vir oulaas sake sal uitspook.

Die Aussies geniet egter die binnebaan met hul 125 punte op die amptelike punteleer; nege punte meer as Samoa (116 punte) en Suid-Afrika (116 punte).

Volgens James Murphy is dit op papier eintlik baie maklik vir die Blitsbokke om hul kaartjies na Frankryk te bespreek: Hulle moet net hierdie naweek met die louere op Twickenham wegstap.

Maar hulle gaan ongetwyfeld ʼn opdraande stryd in Londen moet voer. Benewens Groot-Brittanje en die VSA, staan Nieu-Seeland ook in hul pad om vir die bekeruitklopwedstryde te kwalifiseer.

“Om vir die Olimpiese Spele te kwalifiseer is beslis een van ons groot doelwitte. Sommige dinge het vir ons reggeloop en ander weer glad nie. As spelers moet ons ook pa staan vir ons vertonings,” het Murphy gesê.

Die Blitsbok-ster erken dat die span die bal in Toulouse laat val het, maar hulle is vasberade om goed in Londen te vertoon.

“Die outomatiese kwalifiseringsproses is nog nie verby nie en ons sal hierdie naweek ons heel beste gee. Ons kan dit egter nie bekostig om te veel op die ander spanne te konsentreer nie omdat dit ons kan pootjie.”

Die toernooi op Twickenham bied die span ook ʼn geleentheid om ʼn paar foute reg te stel. Hulle het in Toulouse hopeloos te veel duikslae gemis, terwyl hulle ook met die afskoppe gesukkel het.

“Ons hooffokus is tans die eerste wedstryd teen Groot-Brittanje. As ons daardie kragmeting deurtrek sal ons na die VSA en Nieu-Seeland kyk. Daar is nie iets soos ʼn maklike wedstryd in die toernooi nie en ons sal vanuit die staanspoor op alle suiers moet vuur.”

  • Blitsbok-bepalings:

Saterdag:

12:07: Blitsbokke teen Groot-Brittanje

15:15: Blitsbokke teen die VSA

19:33: Blitsbokke teen Nieu-Seeland

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.