Blitse maak litte los vir nóg ’n Dubai-eindstryd

Die Blitsbokke is deur na ’n vyfde bekereindstryd op ’n streep in Dubai. (Foto: X/Blitsbokke)

Suid-Afrika is ongetwyfeld ʼn krag waarmee daar in Dubai rekening gehou moet word. Die Blitsbokke is deur na nóg ʼn bekereindstryd in die woestynstad nadat die span vir Fidji met 14 – 7 in die halfeindstryd geklop het.

Die eilandmanne het vroeg in die wedstryd hul fisieke teenwoordigheid laat geld, maar die Suid-Afrikaners het sterk gestaan en Justin Geduld se opportunistiese werk ná ʼn vinnige tikskoppie het vir die eerste punte van die wedstryd gesorg.

Suid-Afrika het ʼn rustydvoorsprong van 7 – 0 geniet, maar ʼn mens kan nooit vir Fidji op ʼn sewesrugbyveld enige spasie gun nie en Pilipo Bukayaro het vroeg in die tweede helfte met ʼn goeie drie teruggeslaan.

Tog is dit duidelik dat dié Blitsbokspan vir mekaar speel.

Hulle het kliphard verdedig en elke speler het na ʼn gaping gesoek om sy spanmaat weg te stuur; daar was gʼn teken van ʼn soektog na persoonlike glorie nie.

Masande Mtshali het die wendrie laat in die wedstryd gedruk.

Die Blitsbokke speel later vanmiddag teen Argentinië in die bekereindstryd.

Die Suid-Amerikaners het pas hul aksiebelaaide halfeindstryd teen Nieu-Seeland met 21 – 19 beklink.

Die bekereindstryd word om 17:53 beslis.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Justin Geduld en Masande Mtshali.

Fidji: Drie: Pilipo Bukayaro.

  • Uitslae van Blitsbokke se vorige bekerwensessies in Dubai:

2003: 33 – 26 teen Nieu-Seeland

2006: 31 – 12 teen Nieu-Seeland

2008: 19 – 12 teen Engeland

2014: 33 – 7 teen Australië

2016: 26 – 14 teen Fidji

2017: 24 – 12 teen Nieu-Seeland

2019: 15 – 0 teen Nieu-Seeland

2021: 42 – 7 teen die VSA

2021: 10 – 7 teen Australië

2022: 21 – 5 teen Ierland

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.