Blitse maak dinge vir hulself moeilik

Die Blitsbokke het hul openingswedstryd van die Los Angeles-sewestoernooi met 21 -7 teen die VSA verloor. Foto: Twitter.

Neil Powell moet nou allermins ’n gelukkige afrigter wees nadat die VSA die Blitsbokke met 21–7 in die twee spanne se openingswedstryd van die Los Angeles-toernooi oorrompel het.

Die Amerikaners het inderdaad met durf en passie op hul tuisveld gespeel, maar die Suid-Afrikaners het soms ook punte op ’n silwer skinkbord prysgegee.

Verbroude duikslae en ’n strafskop wat nie die kantlyn gevind het nie, het beslis tot Powell se hoofpyn bygedra.

Die VSA het die enigste drieë – danksy David Still en Joe Schroeder se puik pogings – van die eerste helfte gedruk, waarna die ervare Perry Baker hakskene vir die Blitsbok-verdedigers in die tweede helfte gewys het.

Sako Makata het die Suid-Afrikaners se enigste drie gedruk.

Boonop sal die uitslag van die Los Angeles-toernooi ’n deurslaggewende rol in die bepaling van die uiteindelike reekswenners speel.

Die finale puntestand sal bepaal word deur die deelnemende lande se sewe beste vertonings van die afgelope seisoen in berekening te bring. Dit beteken dat Fidji – wat tans vierde op die punteleer is – nog met die titel kan wegstap as hulle die silwerware in Los Angeles omhoog hou en die Suid-Afrikaners terselfdertyd heeltemal uit die bus val.

Die Blitsbokke kan ook die reeks wen, selfs al hou hulle nie die silwerware hierdie naweek omhoog nie. Hulle moet onder die topvierspanne eindig en hoop dat Australië nie die bekereindstryd wen nie.

Maar hulle het dinge nou vir hulself baie moeilik gemaak.

Bepalings:

21:26 teen Kanada

  • Sondag:

00:59 teen Nieu-Seeland.

Hoe dinge op die HSBC-punteleer lyk:

  1. Suid-Afrika 124 punte
  2. Australië 122 punte
  3. Argentinië 118 punte
  4. Fidji 104 punte
  5. Ierland 92 punte
  6. VSA 84 punte
  7. Frankryk 81 punte
  8. Engeland 70 punte
  9. Nieu-Seeland 58 punte
  10. Samoa 56 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.