Blitse val vas teen vurige Fidji

’n Moedige Blitsbok-span het met 14 – 12 teen Fidji verloor. (Foto: X/Blitsbokke)

So naby, maar tog ook so ver. Suid-Afrika het sy bekerkwarteindstryd met 14 – 12 teen Fidji in Perth verloor.

Moet egter nie dink dat die eilandmanne hul teenstanders oordonder het nie; die Blitsbokke het ongetwyfeld hul man teen ʼn goeie Fidji-span gestaan.

Quewin Nortjé het vroeg in die wedstryd sy dyspier seergemaak nadat hy ʼn skop agternagesit het. Hy het egter steeds sy beste vir sy span gegee en hy het op een been na sy verdedigingslinie teruggehop.

Sy moedige vertoning het die Blitsbokke se vertoning perfek opgesom: Hulle het soos tiere teen Fidji verdedig, terwyl Ryan Oosthuizen vir die eerste punte van die wedstryd gesorg het.

Teen rustyd het die Suid-Afrikaners ʼn voorsprong van 5 – 0 geniet, maar Fidji lyk deesdae weer na die span van ouds en hulle laat jou nie sommer met rus nie.

Tussendeur is James Murphy met ʼn geel kaart van die veld gestuur en Tristan Leyds het met sy puik drie gewys dat hy ʼn seweskrag kan word waarmee daar rekening gehou moet word.

Met die sekondes wat op die stadionhorlosie aftik, het die Blitsbokke vir oulaas alles in die stryd gewerp om die wedstryd te wen, maar hul vlam is uiteindelik deur Fidji se krag by die afbreekpunte uitgedoof.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Ryan Oosthuizen en Tristan Leyds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.