Blitse verrinneweer Samoa

Zain Davids op pad na die Blitsbokke se eerste drie teen Samoa. Die Suid-Afrikaanse blitse speel later vanmiddag teen Nieu-Seeland in die bekereindstryd. (Foto: Twitter)

Die Blitsbokke het amok teen Samoa in die bekerhalfeindstryd van die Dubai-sewestoernooi gemaak toe hulle die eilandmanne met 38 – 7 afgeransel het.

Vaardighede, spoed en talent was op die spyskaart en die Suid-Afrikaners het ses bobaas-drieë gedruk om die wedstryd op ’n drafstap te wen. Dít ten spyte van die feit dat Samoa die eerste punte aangeteken het.

Zain Davids, Chris Dry, Siviwe Soyizwapi, Ruhan Nel, Seabelo Senatla en Selvyn Davids het almal vir punte gesorg, terwyl Justin Geduld se skopvoet ook suksesvol was.

Senatla se drie was sy 226ste in die Blitsboktrui.

In die eerste halfeindstryd het die Nieu-Seelanders goed teen die Engelse terugbaklei om met 19 – 12 te wen.

Engeland was grotendeels op die voorvoet, maar net soos in vyftienmanrugby moet jy nie vir ’n Nieu-Seelander ’n kans op die rugbyveld gee nie; hy sal jou straf waar dit seer maak: Op die telbord.

  • Die eindstryd sal om 17:02 begin en dit sal regstreeks op SuperSport 1 uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.