Blitse wil ʼn punt in Kaap bewys

(Foto: GB Jordaan)

Vergeet vir eers van druk. Vir die Blitsbokke is dit ʼn voorreg om in die Kaap te speel.

Die Blitsbokke het laas in 2015 die sewessilwerware in Kaapstad omhoog gehou, maar die span is oorgehaal om op verlede naweek se sukses in Dubai voort te bou.

“Ons is mal daaroor om voor ons ondersteuners, familie en vriende te speel en die Kaapstad-toernooi is ons enigste geleentheid om dit te doen,” het Justin Geduld gesê.

Volgens Zain Davids het die Blitsbokke weer hul wenvuur tussen die duine van Dubai gevind en die span is vasbeslote om weer op die DHL-stadion te skitter.

“Baie dinge het vir ons in Dubai reg geloop. Ons het as ʼn hegte eenheid gespeel en besef dat ons goed genoeg voorberei het om te wen. Nou moet ons dit weer aan onsself op die speelveld bewys,” het Davids gesê.

“Om in Kaapstad te speel is ʼn voorreg. Ons skuld ons ondersteuners ʼn vertoning waarop hulle trots kan wees.”

Suid-Afrika is saam met Groot-Brittanje, die VSA en Ierland in ʼn groep en hulle speel Saterdag om 10:50 in hul eerste groepwedstryd teen die Britte.

Blitsbok-bepalings (Saterdag):

10:50: Suid-Afrika teen Groot-Brittanje

14:12: Suid-Afrika teen VSA

19:34: Suid-Afrika teen Ierland

Punteleer:

  1. Suid-Afrika: 20 punte
  2. Argentinië: 18 punte
  3. Nieu-Seeland: 16 punte
  4. Fidji: 14 punte
  5. Ierland: 12 punte
  6. Samoa: 10 punte
  7. Australië: 8 punte
  8. VSA: 6 punte
  9. Frankryk: 4 punte
  10. Groot-Brittanje: 3 punte
  11. Spanje: 2 punte
  12. Kanada: 1 punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.