Blou Maandag wag weer op Bulle

Die Bulls het 32-7 teen die Cheetahs vasgeval. (Foto: Twitter/ Toyota Cheetahs)

Daar moet groot kommer in die wandelgange by Loftus Versfeld in Pretoria heers, want om darem segeloos ná drie wedstryde in die Curriebekerreeks te wees en boonop ʼn swakker punteverskil (-81 teenoor -71) as die Griffons te hê, is geen goeie leesstof vir enige span en om enige braaivleisvuur nie.

Dít is die verhaal van die Bulle se rugbyspan, wat Vrydagaand met 32-7 deur die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein geklop is nadat die Vrystaters rustyd met 15-7 voorgeloop het.

Ja, dit is ʼn jong span wat aan die diep kant ingegooi word, maar om darem geen punte in die tweede helfte aan te teken nie, is mos nie wat die ondersteuners van hul span verwag nie?

Dalk word daar te veel van die span verwag, veral omdat die Bulls, Bulle, Tukkies en die Bulle se jong spanne die afgelope paar jaar oorheers en ʼn hele paar trofeë in Loftus se glaskaste geplaas het.

Maar net een bonuspunt ná drie Curriebekerwedstryde?

Waar is die diepte?

Die Vrystaat-Cheetahs het weliswaar hul beste span gekies en sal vir die volgende paar wedstryde diep moet delf om raak te vat wanneer die span oorsee teen hardebaarde soos Toulon speel en daar tuis om die Curriebeker meegeding word.

Dit gaan raap en skraap kos, veral omdat twee van die Vrystaters se studentespanne, die Shimlas en Ixias, al hul aandag op die Varsitybekerreeks gaan toespits en daar nie nou op daardie spelers se knoppies gedruk kan word nie.

Nietemin het die Vrystaat-Cheetahs se ervare hardebaarde, soos Frans Steyn (voordat hy beseer is), Ruan Pienaar, Oupa Mohoje en Jeandré Rudolph die Bulle geboelie, gewurg en in foute gedwing.

Dit het jong spelers soos Daniel Kasende, Cohen Jasper, Munier Hartzenberg en Siba Qoma in staat gestel om uit te blink.

Vir die Bulle is dit terug tekenbord toe, om antwoorde te soek wat daar nog nie is nie.

Punte: Vrystaat-Cheetahs 32 (15) Drieë: Gideon van der Merwe, Marnus van der Merwe, Munier Hartzenberg, Siba Qoma, Cohen Jasper. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2). Strafdoele: Pienaar.

Bulle 7 (7) Drieë: Jan-Hendrik Wessels. Doelskop: Franco Knoetze.

 

Griffons val vas teen Leeus

Op Ellispark het die Griffons twee duur lesse teen die Leeus geleer.

Die een is dat swak dissipline jou aan die hakskeen gaan byt en tweedens dat ʼn wedstryd 80 minute duur.

Die Griffons was rustyd met 23-12 voor, maar toe hul stoom in die tweede helfte opraak en hulle twee geel kaarte kry omdat hulle nie meer die damwal kon toestop nie, het die Leeus beheer geneem en die Perses met 41-26 bloedneus gegee.

Vir die Leeus was die oorwinning broodnodig vir hul selfvertroue, want hulle speel met ʼn span vol opwindende jongelinge.

Punte: Leeus: 41 (12): Drieë: Sibusiso Sangeweni, Stean Pienaar, Nico Steyn (3), Rynhardt Roets. Doelskoppe: Vaughen Isaacs (4), Tiaan Swanepoel.

Griffons: 26 (23) Drieë: Marquit September, Dandré Delport. Doelskoppe: Jaywinn Juries (2). Strafdoele: Juries (4).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.