Boeta staan Curwin se skoene teen Leinster vol

Boeta Chamberlain. (Foto: Valentine Chapuis/AFP)

Boetie gaan Border toe kan sommer na Boeta gaan Dublin toe verander word.

Die Sharks kan omtrent vir ʼn veldslag gereedmaak wanneer hulle teen Leinster in die kwarteindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap op die Aviva-stadion kragte meet.

Boeta Chamberlain moes noodgedwonge die skuif van heelagter na losskakel maak om die beseerde Curwin Bosch se skoene vol te staan.

Bosch, wat met tye goed op die aanval in die Kampioenebeker-kragmeting teen Toulouse gelyk het, het ʼn ribbesering opgedoen en hy is nie vir die uitspeelwedstryd oorweeg nie.

In die 24-jarige Chamberlain het die Durbaniete egter ʼn betroubare plaasvervanger wat sy man in die no. 10-trui kan staan.

James Venter is in die beseerde Siya Kolisi se plek op flank, terwyl Marnus Potgieter vir Werner Kok op regtervleuel vervang.

Lukhanyo Am. (Foto: Twitter.)

Die Springbok-senter Lukhanyo Am sal in Kolisi se afwesigheid die kapteinskapleisels vasvat, terwyl hy saam met Aphelele Fassi en Makazole Mapimpi vir ʼn opwindende agterlyn sorg.

Leinster het weliswaar verlede jaar in die halfeindstryd van die einste toernooi teen die Bulls vasgeval, maar die Iere is oorgehaal om nie weer in dieselfde slaggat te trap nie.

Volgens Gerbrandt Grobler is die Sharks ongetwyfeld die buiteperdspan vir dié wedstryd.

“Niemand gee ons veel van ʼn kans nie en ons is oukei daarmee. Ons is hier om ʼn wedstryd te wen en ons glo in ons vermoëns. Terselfdertyd het ons niks om te verloor nie en ons sal alles in die stryd werp,” het die slot gesê.

Die wedstryd begin Saterdag om 18:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Sharks: Aphelele Fassi (heelagter), Marnus Potgieter (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter en kaptein), Ben Tupuai (binnesenter), Makazole Mapimpi (regtervleuel), Boeta Chamberlain (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Sikhumbuzo Notshe (agtsteman), Vincent Tshituka (flank), James Venter (flank), Gerbrandt Grobler (slot), Corné Rahl (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Fez Mbatha, Ntuthuko Mchunu, Carlu Sadie, Jeandré Labuschagne, Phepsi Buthelezi, Cameron Wright, Nevaldo Fleurs en Rohan Janse van Rensburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.