Bok-era onder Nienaber begin op wennoot

Kwagga Smith en Aphelele Fassi vier Cobus Reinach se drie. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Die Springbokke se vertoning gisteraand teen Georgië op Loftus Versfeld kan met ’n luukse motor vergelyk word wat vir ’n hele ruk – 608 dae om presies te wees – onder ’n seil gestaan het. Dit het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom toe jy die sleutel draai, maar toe die enjin stadigaan weer begin luier, het dinge beter gegaan.

Die Springbokke het hul eerste toets sedert die Wêreldbeker-eindstryd in Japan met 40–9 gewen en die Jacques Nienaber-era het op ’n wennoot begin.

Ja, dit was nie altyd mooi nie en Georgië is g’n Nieu-Seeland of Engeland nie, maar as jy na ’n span gesoek het om van die spinnerakke met klipharde rugby ontslae te raak, dan is die Oos-Europeërs nie ’n slegte keuse nie.

Die besoekers het goeie rugby in die eerste 20 minute van die wedstryd gespeel en hulle het selfs in ’n stadium met 9–5 voorgeloop voordat die Springbokke begin vlamvat het.

Aphelele Fassi druk sy drie. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Aphelele Fassi se drie in sy toetsbuiging was te danke aan ’n seepgladde lopie langs die kantlyn af, terwyl Cobus Reinach gewys het waarom hy een van die gevaarlikste skrumskakels op die internasionale verhoog is.

As Beauden Barrett – toe hy nog gereeld op losskakel gekies is – as die vinnigste nommertien in wêreldrugby bestempel word, moet Reinach dan ongetwyfeld een van die vinnigste skrumskakels wees.

Die Springbokke het ’n rustydvoorsprong van 19–9 geniet en hulle het dié voorsprong in die tweede helfte met nog ’n paar drieë gerek.

Die verskyning van die plaasvervanger-voorry van Steven Kitshoff, Malcolm Marx en Frans Malherbe op die veld het soos ’n bom gewerk en Georgië was op die agtervoet in die skrumsituasie.

Kwagga Smith het ook heel skaflik op agtsteman in die plek van Duane Vermeulen vertoon, terwyl Pieter-Steph du Toit oudergewoonte sy gô uitgespeel het. Dan kan Jasper Wiese – toe hy vir Smith vervang het – ook heel tevrede wees met sy spel in sy eerste toets.

Foto: Phill Magakoe/AFP.

“Georgië verdien ongetwyfeld ’n kompliment. Ons het geweet hulle gaan fisieke teenstanders wees, maar ons het nie geweet hoe goed ons daarop sou reageer nie,” het Nienaber gesê.

Volgens die Bok-afrigter het die besoekers hulle effens onverhoeds in die openingsalvo van die eerste helfte betrap, maar sy span weet nou wat om te verwag en hulle sal beter voorbereid wees.

“Jy kan ook net soveel dinge op die oefenveld doen, maar vanaand was die têkkels kliphard en niemand het teruggehou nie. Ons moes daarby aanpas en ek is tevrede met die ouens. Volgende week sal ons in elke afdeling moet verbeter, maar hierdie vertoning was seker te verwagte ná ’n toetsrugby-afwesigheid van 20 maande.”

  • Die Springbokke speel op 9 Julie weer teen Georgië, voordat die Britse en Ierse Leeus op 24 Julie begin.
  • Puntemakers:

Springbokke: Drieë: Aphelele Fassi, Bongi Mbobambi, Cobus Reinach, Kwagga Smith, Herschel Jantjies en Malcolm Marx. Doelskoppe: Handré Pollard (4) en Elton Jantjies.

Georgië: Strafskoppe: Tedo Abzhandadze (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Andre ·

Terwyl ek na die gestoei gekyk het terwyl die kaptein op vleuel staan wou ek dink Nienaber wil die Britse Leeus ‘n rat voor die oë draai met die wedstryd plan toe moet ek lees hy sê dit is glad nie die geval nie. Nou ja met die plan sal hy nie eens die Botswana Leeus klop wat nog van die Britse Leeus

Dirk Mostert ·

Verduidelik vir my. Herschel Jantjes het net ‘n paar dae gelede positief getoets. Moes hy dan nie onder kwarantyn gewees het nie?

Dirk Mostert ·

Die eerste toets het dus ‘n vals resultaat opgelewer. Wonder of die vals positiewe resultaat weer afgetrek is van die “infeksies”.

Tubac ·

Ek sou graag wil weet indien die spelers van oorsee nie gespeel het nie, wat die uitkoms sou wees?
Dit laat my wonder of ons werklik so goed is soos wat voorgegee word.

Tubac ·

Kampioenspan se voet. Ek is jammer maar hulle was slegs kanonvoer Eerder n goeie oefen sessie. There is nobody so blind that those that cannot see.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.