Bokke het vertroue in kaptein Bongi

Bongi Mbonambi is die Springbok-kaptein vir die wedstryd teen Argentinië in Buenos Aires. (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Hoewel ʼn paar wenkbroue sekerlik moes gelig het toe Bongi Mbonambi as die Springbok-kaptein vir Saterdag se toets teen Argentinië aangewys is, is Jacques Nienaber tevrede met die keuse.

In die afwesigheid van Siya Kolisi het Duane Vermeulen en Eben Etzebeth al vanjaar die Suid-Afrikaners op die veld gelei en nou is dit die 32-jarige voorspeler se beurt om die kapteinskaparmband in Buenos Aires te dra.

“As ʼn haker is Bongi die ou wat gereeld met die skeidsregter in verbinding tree – veral wat lynstane en skrums betref,” het Nienaber gesê.

Volgens die Springbok-afrigter beskik Mbonambi oor uitstekende kommunikasievaardighede en dit sal veral nuttig te pas in sy nuwe rol as kaptein kom.

“Bongi is nie iemand wat nonsens duld nie en hy is ʼn speler wat beslis van voor lei. Hy draai nie doekies om nie en ʼn mens weet presies waar jy met hom staan. Sy leierskapvaardighede staan ongetwyfeld vir my uit sedert ek in 2018 teruggekom het.

“Mense volg hom omdat hy nie iemand is wat een ding sê en dan iets anders doen nie; hy doen wat hy beloof het om te doen.”

Mbonambi het in 2016 sy Springbok-buiging teen Ierland in Gqeberha gemaak; ʼn wedstryd wat die Suid-Afrikaners met 19 – 13 beklink het.

Sedertdien het hy Suid-Afrika in 59 toetse verteenwoordig, terwyl hy al 12 drieë in die groen en goud gedruk het.

“Daar is ʼn aura rondom Bongi en ek is trots op hom.”

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Canan Moodie (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), André Esterhuizen (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Cobus Reinach (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Deon Fourie (flank), Marvin Orie (slot), Jean Kleyn (slot), Thomas du Toit (stut), Bongi Mbonambi (kaptein en haker) en Trevor Nyakane (stut). Plaasvervangers: Joseph Dweba, Gerhard Steenekamp, Vincent Koch, Jean-Luc du Preez, Evan Roos, Herschel Jantjies, Jesse Kriel en Kurt-Lee Arendse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vernon ·

Stem,weer n politiese KORREKTE keuse..sy spel is pateties. JN niemand glo jou nie vriend.

Lily ·

Ek sou reken dat onstabiliteit veroorsaak word as daar met elke toets ‘n ander kaptein is.

Fran ·

veral om iemand wat nog NOOIT kaptein was v sy provinsie nie! Nienaber buig maar net voor sy meesters die ANC

Fran ·

Hy sal ‘n goeie kaptein wees al was hy nog nooit kaptein van enige span nie.

JN ·

Hehe heheee
Ai ja nee.Wat kan n mens sê behalwe om te lag.In Afrika is enige iets moontlik..
Die sirkus duur voort…

Niklaas ·

Ek sou reken dat hy ‘n kans moet kry om sy staal te toon. Dalks vaar hy nie te sleg nie .
Tyd sal leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.