Bokke kan weer Drake tem

Die Springbokke vandeesweek op die oefenveld. Foto: Twitter

Die Springbokke hou daarvan om op Loftus Versfeld teen Wallis te speel. Ja, dié twee internasionale spanne het nog net drie keer in Pretoria swaarde gekruis, maar die Suid-Afrikaners het die wedstryde met ’n gemiddelde telling van 62 – 17 gewen.

Klink daardie gemiddelde telling ’n bietjie dik vir ’n daalder? Onthou die Springbokke het in 1998 die Rooi Drake se vuur met ’n klinkende oorwinning van 96 – 13 geblus.

En hoewel die meeste rusbankkenners nie weer só ’n groot oorwinning voorspel nie, sal die meerderheid vir jou waarskynlik vertel dat die Springbokke steeds Saterdag behoort te wen; selfs al stem baie van hulle nie met Jacques Nienaber se spankeuse saam nie.

“Waar is Evan Roos; hy was dan die beste speler in die pasvoltooide Verenigde Rugbykampioenskap? Sal Damian Willemse die mas op heelagter kan opkom?” was net twee van die ondersteuners se vrae toe Nienaber sy span vir die eerste toets aankondig.

“Evan is so ’n talentvolle speler. Ek het hom nog net as ’n agtsteman gesien speel, maar eerlikwaar, as ons hom as no. 7-flank sou kies sal hy nie huiwer om die geleentheid met al twee hande aan te gryp nie. Dieselfde kan gesê word as ons hom op slot sou kies,” het die Bok-breier gesê.

Volgens Nienaber word daar ook na Roos as ’n lid van die Springbok-groep gekyk; soos hoe hy met die wedstrydspan se voorbereidingswerk van hulp is.

“Ons wil graag kyk hoe Evan en kie. sekere dinge hanteer en dit sal hulle goed posisioneer met die oog op die Wêreldbeker.”

Op sy beurt sien Willemse uit na die uitdaging wat voor hom lê. Hy was deel van ’n gedugte Stormers-agterlyn en ondersteuners sal hoop dat hy soortgelyke vertonings in die Springbok-trui kan lewer.

Sy veelsydigheid is beslis ’n pluspunt en hy kan op heelagter, senter of losskakel diens doen.

“Ek het al in ’n hele paar posisies vir die Stormers uitgedraf en ek werk ook hard op die oefenveld. Ek sien uit na Saterdag en ek wil my heel beste lewer,” het Willemse gesê.

Intussen het Wayne Pivac ook sy span vir Saterdag aangekondig.

Dan Biggar sal die Rooi Drake vanuit sy losskakel-posisie aanvoer, terwyl Alun Wyn Jones op die plaasvervangersbank is.

“Suid-Afrika is die wêreldkampioenspan. Hulle is ’n groot, sterk span met ses voorspelers op die plaasvervangersbank en ek dink nie daar gaan veel van ’n verandering in hul wedstrydbenadering wees nie. Dit werk vir hulle,” het die Rooi Draak-afrigter gesê.

Dit is ’n Springbok-span wat daarvan hou om te skop en te têkkel; maar hulle kan ook drieë druk. Moet net nie ’n telling van 96 – 13 verwag nie.

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Franco Mostert (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Lood de Jager (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Ox Nché (stut). Plaasvervangers: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Salmaan Moerat, Elrigh Louw, Kwagga Smith, Herchel Jantjies en Willie le Roux.

Wallis: Liam Williams (heelagter), Louis Reez-Zammit (regtervleuel), George North (buitesenter), Nick Tompkins (binnesenter), Josh Adams (linkervleuel), Dan Biggar (losskakel), Kieran Hardy (skrumskakel), Taulupe Faletau (agtsteman), Tommy Reffell (flank), Dan Lydiate (flank), Adam Beard (slot), Will Rowlads (slot), Dillon Lewis (stut), Ryan Elias (haker) en Gareth Thomas (stut). Plaasvervangers: Dewi Lake, Rhys Carre, Tomas Francis, Alun Wyn Jones, Josh Navidi, Tomos Williams, Gareth Anscombe en Owen Watkin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Afriperd ·

Die bokke behoort maklik te wen, veral sien dat Wales teen Italia verloor het die jaar in die 6 nasies. Ongelukkig speel ons net met 14 man op die veld oor ons “Kaptein” niks doen nie en net kyk hoe die ander manne rugby speel.

absoluut ·

Absoluut en natuurlik die tv skerm breker(op die vliegtuig) verder is hy goed vir niks

piet ·

Die kaptein was verlede jaar SA rugbyspeler van die jaar, jy’t duidelik nie verlede jaar rugby gekyk nie.

De Villiers ·

Ek stem, Kolosi het soos ‘n monster gespeel verlede jaar!

De Villiers ·

Ek dink die Bokke gaan wen, maar dit gaan broekskeur gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.