Bokke moet dié gate toestop

Wille le Roux druk ‘n drie teen Tonga. (Foto: Twitter/ Sprinboks)

Die doelwit is bereik – die Bokke het gewen en ʼn bonuspunt gekry. Nou wag ons om hierdie naweek te sien wie gaan die Bokke se teenstanders wees in die kwarteindstryd.

Die oorwinning oor Tonga was alles behalwe maanskyn en rose. Die telbord wys Suid-Afrika het met 49 – 18 gewen, maar daar is baie gate wat toegestop moet word voor die naweek van 14 en 15 Oktober wanneer die uitklopwedstryde begin. Die tweede helfte het gewys sodra die Bokke struktuur verloor, is daar ruimtes vir die opponent om drieë te druk.

Die Springbokke sukkel ook steeds om af te rond. Wanneer jy in die kwartgebied van die teenstanders kuier, moet die telbord saampraat. Dis hier waar onnodige foute insluip wat Tonga maklike geleenthede gegee het om te ontsnap. Dis juis dit wat talle rugbyliefhebbers aan die praat het oor die All Blacks se oorwinning van 96 – 17 oor Italië. Elke aangee – wild of nie – is gevang en die All Blacks het afgerond. Dis nou wel ʼn wedstryd teen Italië, maar dit sal goed wees vir die toernooi as die Nieu-Seelanders nou weer op ʼn opwaartse kurwe is.

Die goeie nuus vir afrigter Jacques Nienaber is dat hy byna twee weke het om antwoorde te vind. Die negatiewe aspek kan wees dat talle van sy eerstekeuse spelers laas op 23 September teen Ierland gespeel het. Die vraag is of hulle vars gaan wees of verroes?

Die Springbokke teen Tonga tydens die 2023 Wêreldbeker-rugbytoernooi. (Foto: Twitter/ Springboks))

Die beste nuus uit die oorwinning oor Tonga is hoe Handré Pollard en Manie Libbok gewys het hulle is uitstekende generaals vir die Bokke. Na al die klaagliedere oor die skopwerk pale toe, het hulle met elke skop geslaag. Pollard sowel as Libbok is baie meer as hulle skopwerk – hulle het ook gevaarlik gelyk op die aanval. Pollard-aanhangers sal baie bly wees dat hy ná 50 minute se spel sonder enige skete deur Libbok vervang is. Hulle hoort albei in ʼn wedstrydgroep vir die uitkloprondes.

Daar was wel agterlangs flaters op verdediging, maar dit kan reggestel word.

Die Bokke se voorspelers is behoorlik getoets deur die fisieke manne van Tonga. Hulle het die toets geslaag en by tye het hulle die reuse-eilandmanne voorlangs selfs geboelie. Kragslot Eben Etzebeth lyk wel asof hy kan doen met twee weke se blaaskans. Deon Fourie het gewys hy kan op hierdie vlak ook as haker uitblink. Hy is welverdiend as Speler van die wedstryd aangewys.

ʼn Ander ligpunt in die oorwinning was die oorgawe waarmee Cobus Reinach gespeel het. Hy hoort ook in ʼn wedstrydgroep vir die kwarteindstryd weens sy veelsydigheid en betroubaarheid. Hy skop ook nie onnodig balbesit weg nie.

Die All Blacks druk ‘n drie teen Italië. (Foto: Twitter/ All Blacks)

Die slegte nuus is dat Makazole Mapimpi sy wangbeen gekraak het. Verdere skanderings sal vandag gedoen word. Dit sal jammer wees as hy nie verder in die toernooi kan speel nie.

Nienaber het gesê die span gaan vir twee of drie dae ʼn bietjie wegbreek van rugby af en dan in alle erns begin voorberei vir die uitklopfase.

Iere vs Skotte sal bepalend wees

Die finale groepwedstryd tussen Ierland en Skotland skep interessante permutasies vir die spanne. Ierland het net een punt nodig om saam met die Bokke deur te gaan na die kwarteindstryde. Ierland sal die groep wen omdat hulle die Bokke geklop het. Sou Skotland vier of vyf punte kry en Ierland geen punte nie, gaan Skotland deur na die kwarteindronde en die Bokke wen die groep omdat hulle die Skotte geklop het. Daar is dus baie op die spel vir al drie spanne wanneer die Iere en Skotte mekaar Saterdagaand om 21:00 pak.

Jones op dun ys

Iemand wat waarskynlik kan doen met ʼn blaaskans, is Australië se afrigter, Eddie Jones. Sy span het wel met 34 – 14 teen Portugal gewen, maar hulle bly onindrukwekkend. Fidji het net een punt teen Portugal nodig hierdie naweek om Australië vir die eerste keer in die groepfase uit die toernooi te boender. Jones het ʼn kontrak tot die volgende toernooi in 2027 wat juis in Australië aangebied word. Hy bou dalk aan ʼn nuwe span, maar die vraag is hoe lank die Australiërs hierdie treurmare gaan uitstaan voordat Jones in die pad gesteek word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mnr De Beer ·

Hoop ek verstaan dit reg. Handre Pollard speel nie vir maande maar het goed geskop tessun die palle teen Tonga. Manie speel maande en maande maar skop net 1 of 2 balle tessun die pale 90% van sy wedstryde die wereld beker. Plus hy gee n miss tackle vroeg in tweede helfte wat Tonga gebruik en n drie druk. Hoekom vat dit Manie so lank om by te kom? Moet n mens eers die eerste helfde al die werk doen en punte aanteken om Manie die tweede helfde te gee op n skinkbord? Moes Manie nie soveel beter as Handre dan nou gewees het met al sy wedstryde wat hy al gespeel het?

kragaap ·

Hy moes eers besef hy sal vervang word as hy aanhou met die swak spel en mis koppe. Bietjie kompetisie doen wondere. Inteendeel Pollard was beter in sy 50 op die veld as Moni was die hele wereldbeker.

Witbaard ·

Die balle kom nie genoeg en betyds by die vleuels uit nie. Dis asof die voorspelers vergeet daar is ‘n agterlyn. (Laat my dink aan die laerskool laaities wat nooit uitgee nie omdat hulle pa’s vir hulle geld gee vir elke drie wat hulle druk.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.