Bokke wil op Ellispark pronk ná Auckland-teleurstelling

Die Springbok-afriger Jacques Nienaber. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Dit is nooit lekker om ʼn toets te verloor nie. Ek dink teleurgesteld is dalk ʼn beter woord om te gebruik ná die wedstryd teen Nieu-Seeland.”

Dít was Jacques Nienaber se woorde tydens Donderdag se Springbok-mediasessie in Pretoria.

Volgens die nasionale rugbyafrigter probeer hy om emosies opsy te skuif wanneer ʼn wedstryd ontleed word.

Hy erken dat die Bokke hopeloos te veel foute in die eerste 20 minute van die kragmeting gemaak het. Swak dissipline het ook tot strafskoppe gelei en die All Blacks het binne ʼn oogwink ʼn voorsprong van 17–0 geniet.

“Ons het mooi teruggeveg en die spelers het hulself in ʼn posisie geplaas om die wedstryd te wen. Ons was uiteindelik egter nie goed genoeg om dit te doen nie.”

Die Suid-Afrikaners het weliswaar meer punte in die tweede helfte as hul rugbyaartsvyand aangeteken, maar Nienaber erken dat dit van weinig nut is: ʼn Rugbywedstryd bestaan immers uit 80 en nie net 60 minute nie.

Maar in ʼn Wêreldbeker-jaar help dit nie veel om te sit en tob oor ʼn teleurstellende vertoning nie; dit is voorwaarts mars om momentum op te bou.

Die Springbokke speel volgende Saterdag teen Argentinië in Johannesburg en as die Wallabies ʼn (onwaarskynlike) haas uit die hoed pluk en met Nieu-Seeland afreken, kan die tuisspan nog met die Rugbykampioenskap-louere wegstap.

Boonop is dit ook die Bokke se laaste tuiswedstryd van die jaar.

“Ons wil nie aan ons planne torring vir die toets teen die Argentyne nie. Die belangrikste is om nou die spelers se werkslading te bestuur. Dit was ons hoofdoelwit om die Kampioenskap te wen, maar ongelukkig is dit nie meer in ons hande nie.”

Oudergewoonte sal spelers gekies word wat die Suid-Amerikaners ʼn ding of twee kan wys.

“Die span wat ons kies om Argentinië aan te vat, sal een wees wat na ons mening goed genoeg is om met hulle af te reken. Dieselfde geld vir die spanne wat teen Australië en die All Blacks diens gedoen het.”

Volgens Nienaber is die spelers oorgehaal om hul beste vaardighede in Johannesburg uit te stal.

“Ons laaste tuiswedstryd is op die ikoniese Ellispark. Dit sal ongelooflik wees om ʼn volgepakte stadion te sien. Daar is niks so intimiderend soos ʼn vol Ellispark nie en dit sal baie vir die spelers beteken.”

Video: Pieter Cloete

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sobymykoolkop ·

Dit is regtig kinderagtig en onsinnig om met die redenasie aan te hou dat die bokke die tweede helfte
” gewen ” het. Dit sal altyd op rekord wees dat hulle 35 – 20 verloor het. Al net soos die anc, verskoning vir alles.

Harley Davidson ·

Ek kan nie verstaan hoekom regte suid afrikaners wit en swart nie die span boikot oor hulle rasse beleid nie ,die sokker span word op meriete gekies nie op velkleur soos die rugby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.