Die voorste Bolandse klubs stamp Saterdag in die Bolandstadion op Wellington koppe in die kwarteindronde van die bond se reeks om die Grootuitdaagbeker.
In die eerste wedstryd 11:30 spring Saldanabaai (Swartland-Weskus) en Caledon (Overberg) aanmekaar. Robertson (Breërivier-Langeberg) en Hillcrest United (Witzenberg-Sentraal) pak mekaar 13:00. Hawston (Overberg) en Wesbank (Swartland-Weskus) kom 14:30 aan die beurt.
Die hoofwedstryd 16:00 is tussen die verdedigende kampioen, Worcester Villagers (Breërivier-Langeberg), wat sy verpligtinge in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker afgehandel het, en Roses United (Witzenberg-Sentraal).
Die halfeindronde word 15 Oktober en die eindstryd 22 Oktober beslis.
Die hekke open 10:00 en toegang kos R20 vir volwassenes en R10 vir leerlinge.
Die Bolandse Rugbyunie (BRU) wys daarop dat verskeie strate in die woonbuurt rondom die Bolandstadion van 09:00 uur Saterdag gesluit sal wees om die verkeersvloei te beheer.
Openbare parkering sal by Huis Andrew Murray (oorkant die stadion se B-veld) teen R20 per voertuig beskikbaar wees.