Britse en Ierse Leeus-toer is die kersie op die koek

Lawrence Dallaglio. Foto: Twitter.

Die gewese Engelse rugbykaptein Lawrence Dallaglio beskou die Britse en Ierse Leeus se reeksoorwinning in 1997 oor die Springbokke as sy heuglikste oomblik, selfs groter as toe Engeland in 2003 die Wêreldbekertoernooi verower het.

Dit is ʼn hele mondvol van ʼn speler wat Engeland in 85 toetse verteenwoordig het, wat 227 keer vir Wasps gespeel het en op drie Britse en Ierse Leeus-toere was.

Dis hoekom aanstaande jaar se Leeus-toer na Suid-Afrika so belangrik gaan wees, want volgens Dallaglio wil al die spanne hulle aan die Springbokke meet, aangesien hulle sulke hoë fisieke eise aan hul teenstanders stel.

Dallaglio het in ʼn onderhoud met die gewese Skotse slot Jim Hamilton op Rugbypass die Bokke met skoolboelies vergelyk, wat net slae wil uitdeel en nooit die ander wang draai nie.

Dallaglio was in 1997 een van die sleutelspelers toe die Leeus teen alle verwagtinge in die Springbokke met 2-1 in die reeks geklop het.

Hy was ook saam met die Leeus in 2001 in Australië en weer in 2005 in Nieu-Seeland op toer, maar niks kan kers vashou by die agt weke wat die Leeus in Suid-Afrika was nie.

Die Bokke moes eintlik die reeks in 1997 gewen het, want hulle was, afgesien van wat die telbord aangedui het, die beste span.

Hulle het 66 punte aangeteken en die Leeus 59, die Bokke het nege drieë gedruk en die Leeus net drie, maar die skopvoet van Neil Jenkins was die groot verskil terwyl die Bokke tussen Edrich Lubbe, Jannie de Beer en Henry Honiball as skoppers rondgeval het.

Die Leeus se keurders, met die Skotse afrigter Ian McGeechan die derde keer in beheer, het raakgevat met die insluiting van ses gewese rugbyligaspelers, Scott Gibbs, Alan Tait, Allan Bateman, John Bentley, Dai Young en Scott Quinnell.

Hulle het groter dissipline gebring, hulle was hard en genadeloos, hulle het die woord “boedel oorgee” by die huis in Brittanje en Ierland gelos.

Gibbs (senter) se bynaam was nie verniet “Pocket Battleship” nie. Afgesien daarvan dat hy soos een gebou was, het hy menige teenstanders, ook Os du Randt, op sy bas laat beland ná een van sy stormramlopies.

Die Leeus-toer gaan die moeder van alle toere wees, want in die een hoek gaan die Nieu-Seelander Warren Gatland, wat Wallis vir 12 jaar afgerig het en met vier Sesnasiestitels spog, die derde keer in beheer van die Leeus wees.

Onder Gatland het Wallis twee keer, in 2011 en 2019, in die halfeindronde van die Wêreldbekertoernooi gespeel en was hulle ʼn wyle eerste op Wêreldrugby se ranglys.

In die ander hoek is Rassie Erasmus, wat in 1997 in die derde toets teen die Leeus gespeel het.

Soos ek Erasmus ken, het hy en afrigter Jacques Nienaber reeds begin beplan om nie in dieselfde strikke as in 1974 en 1997 te trap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alexander ·

Die toer beloof om ‘n titaniese stryd op te lewer. Ek glo tog dat die Springbokke naeskraap sal wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.