Britse Leeus baljaar eers ná rooi kaart

Wayne Barnes stuut vir Jaden Hendrikse van die veld. Foto: Phill Magakoe/AFP.

’n Waterskeidingsoomblik kan voortaan makliker deur Jaden Hendrikse se rooi kaart in gisteraand se kragmeting tussen die Britse en Ierse Leeus en die Haaie op Loftus Versfeld verduidelik word.

Tot die parmantige skrumskakel se onbesonne daad – in die 46ste minuut van die wedstryd – het die moedige Haaie vriend en vyand met hul spel verras.

Hulle het die Britse besoekers met klipharde duikslae op die agtervoet gedwing, terwyl ’n paar opportunistiese drieë – Hendrikse s’n inkluis – gesorg het dat die telling in ’n stadium 26-elk was.

Tot daardie 46ste minuut, natuurlik.

Daarna het die Leeus die krane oopgedraai om die wedstryd uiteindelik met 71–31 te wen. Dit is hul derde agtereenvolgende oorwinning van hul Suid-Afrikaanse safari en hulle het reeds 179 punte in dié kragmetings aangeteken, terwyl hulle ’n gemiddeld van amper tien drieë per wedstryd druk.

Die Haaie verdien ongetwyfeld ’n pluimpie om die besoekers twee keer binne vier dae – boonop sonder hul Springbokke – aan te vat, terwyl spelers soos Werner Kok en Dylan Richardson hul gô uitgespeel het.

Tog gaan daar in die geskiedboeke staan dat die Leeus dié een met 40 punte gewen het – versagtende rooikaart-omstandighede of te nôt.

Moet Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners met dié toedrag van sake tevrede wees? Waarskynlik nie. Maar Duhan van der Merwe – wat vir die tweede agtereenvolgende keer as die speler van die wedstryd aangewys is – was darem dié keer net met ’n kortkop die beste Suid-Afrikaner op die veld.

Dan word die moontlikheid al hoe groter dat al die toetse in die Kaap gespeel kan word om die derde Covid-19-vlaag in Gauteng te probeer ontduik.

Die Leeus se besturende direkteur, Ben Calveley, het juis verlede week gesê die spanlede sal alles in hul vermoë doen om van die toer ’n sukses te maak.

Maar oorsese joernaliste begin mor dat die toetse eerder na Brittanje geskuif moet word.

“As jy ’n skuif van Johannesburg na Kaapstad vir die tweede en derde toets kan maak, dan sal dit mos ook moontlik wees om hulle na Twickenham te skuif, of hoe?” het Andy Goode op die rugbywebblad RugbyPass gevra.

“Dit is eintlik vanselfsprekend, maar hoe lekker sal dit nie wees om te sien hoe toeskouers die wedstryde – wat veronderstel is om die toppunt van ons sport te wees – ondersteun nie. Bring dit huis toe.”

  • Puntemakers:

Britse en Ierse Leeus: Drieë: Jamie George (2), Anthony Watson (2), Tadhg Beirne (2), Chris Harris, Duhan van der Merwe, Elliot Daly, Jack Conan en Tom Curry. Doelskoppe: Dan Biggar (8).

Haaie: Drieë: Anthony Volmink (2), Thaakir Abrahams, Jaden Hendrikse en Werner Kok. Doelskoppe: Lionel Cronjé (3).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Na hierdie wedstryd kan Lionel Cronje dalks meer gereeld in die Sharks span gesien word.

Jakes ·

Soos ek al voorheen repliek gelewer het oor die Haaie se power spel in sekere wedstryde is dit saterdag bewys dat die weglating van Curwin Bosch en Marius Louw meegebring het dat die Haaie beter rugby gespeel het totdat Hendrikse n rooikaart ontvang het. Om die waarheid te se, saterdag se span die beste rugby tot dusver hierdie seisoen gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.