Britse Leeus van 1974 was die Bokke se tiere

rugbybal2.jpg

Argieffoto.

Wanneer daar oor die beste Springbokspan van alle tye gepraat word, sal daar nooit eenstemmigheid wees nie.

Was dit die span van 1912-’13 wat al vyf toetse op die Britse en Franse toer gewen het, of wat van die Springbokspanne van 1931-’32, 1951-’52 en 1960-’61 wat ook ʼn grand slam behaal het?

Wat van die Springbokspanne wat in 1995, 2007 en 2019 die Wêreldbekertoernooie gewen het?

Wat van die eerste Springbokspan (in 1937) wat ʼn reeks in Nieu-Seeland kon wen?

Wat van 2009 se Bokke wat die Drienasies gewen het en ook die Britse en Ierse Leeus getroef het?

Wat van Nick Mallett se span wat in 1997-’98 onoorwonne in 17 opeenvolgende toetse was?

Maar wanneer daar oor toerspanne gepraat word, sal die horlosie net een keer teruggedraai word, presies na 46 jaar gelede toe die Britse Leeus in 1974 deur Suid-Afrika getoer het en kop en skouers bo die res uitgetroon het.

Die toerspan, met die Ier Syd Millar in beheer as afrigter (hy was in 1962 en in 1968 as speler saam met die Leeus in Suid-Afrika), en nog ʼn Ier, Willie John-McBride (hy was op vyf Leeu-toere) as kaptein, het die reeks met 3 – 0 gewen.

Hulle het 21 van hul 22 wedstryde op toer gewen en net een keer, in die vierde toets op Ellispark, met 13 – 13 teen die Springbokke gelykop gespeel.

Hulle het tien drieë teen die Bokke gedruk en 79 punte aangeteken, terwyl die Bokke met net een drie, deur Peter Cronjé, op Ellispark kon antwoord en slegs 34 punte kon aanteken.

Die Leeus het net 17 spelers in die vier toetse gekies, die doelpale verskuif deur ʼn heelagter, Andy Irvine na vleuel te skuif en ʼn slot, Roger Uttley, op flank te kies.

Wat ook in hul guns getel het, was dat die Leeus in 1971 die reeks met 2 – 1 teen die All Blacks in Nieu-Seeland gewen het.

Die span van 1974 het wêreldsterre soos JPR Williams, Phil Bennett, Gareth Edwards, McBride, Fergus Slattery en Mervyn Davies gehad, hul stewige skrumwerk het die Bokke op die agtervoet gehou, terwyl Slattery (flank) die Bokke se agterspelers grys hare gegee het.

Die Springbokkeurders het ook nie saamgespeel nie en klimtol met die spelers gespeel. Net twee, Chris Pope (vleuel) en Hannes Marais (vaskopstut en kaptein), het in al vier toetse gespeel.

Roy McCallum, Dugald MacDonald, Polla Fourie, Johan de Bruyn en Leon Vogel (plaasvervanger-vleuel) het in hul enigste toets teen die Leeus gespeel.

In die derde toets het hulle Gerrie Sonnekus, destyds ʼn agtsteman, as skrumskakel gekies. Hulle het onder meer ook drie losskakels, Dawie Snyman, Gerald Bosch en Jackie Snyman, gekies; hulle het Morné du Plessis as flank met Polla Fourie vervang, wat op sy beurt vir Klippies Kritzinger moes plek maak. Kritzinger is weer op sy beurt deur Kleintjie Grobler (agtsteman) vervang toe hy na flank geskuif is.

Boonop is die haker Dave Frederickson ná net een toets gepos.

Kevin de Klerk en John Williams was straks die beste slotpaar, maar hulle is ná die eerste twee toetse met Moaner van Heerden en Johan de Bruyn vervang.

Dit het beslis in die hande van die Leeus gespeel, maar kom ons wees eerlik, daar was nog nie ʼn beter toerspan in Suid-Afrika nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.