Bulle ’n tree nader aan Curriebeker-glorie

Stravino Jacobs het twee drieë vir die Blou Bulle gedruk. Foto: GB Jordaan.

Met dié dat die Blou Bulle en die Leeus se halfeindstryd vandag reeds om 14:00 op Loftus Versfeld begin het, het dit ’n mens baie aan ’n eerstespanwedstryd op hoërskool laat dink.

En vir hierdie kragmeting was daar ’n baie streng onderwyser in beheer van sake; iemand wat daarvan hou om spelers vir oortredings te straf.

Die Blou Bulle het die wedstryd met 26 – 21 gewen om vir die eindstryd van die Carling Curriebekerreeks te kwalifiseer. Hulle sal nou óf teen die Westelike Provinsie óf teen die Haaie te staan kom.

Die Pretorianers en Johannesburgers het vandag elk drie drieë gedruk, maar ’n magdom strafskoppe het die Leeus geslaan waar dit die seerste maak: Op die telbord.

En in ’n halfeindstryd is daar nie sommer ’n terugkomkans nie.

Op ’n stadium in die tweede helfte het die Leeus die een strafskop na die ander afgestaan, terwyl Rasta Rasivhenge vir Marvin Orie en vir Willem Alberts met geel kaarte van die veld gejaag het.

Foto: GB Jordaan.

Teen ’n span soos Duane Vermeulen se Bulle durf jy eintlik nie ’n fout maak nie, want Morné Steyn mis nie; terwyl sy adjudant Chris Smith ook oor skerpskutter-akkuraatheid beskik.

In die paar oomblikke waar die Leeus wel toegelaat was om met die bal te hardloop was die tuisspan se verdeding – veral in die eerste helfte – rotsvas.

Tog het Wandisile Simelane (13) en Burger Odendaal (12) gewys dat hulle gevaarlik op die aanval is en veral die buitesenter het ’n juweel van ’n drie in die tweede helfte gedruk.

Maar op die ou einde is die telling al wat saak maak. En die Bulle is op koers om hul tweede beker van die afgelope paar maande omhoog te hou.

Foto: GB Jordaan.

In Pretoria weet hulle deesdae weer hoe om te wenrugby te speel.

  • Puntemakers:

Blou Bulle: Drieë: Stravino Jacobs (2) en Johan Grobbelaar. Doelskop: Morné Steyn. Strafskoppe: Steyn (3).

Leeus: Drieë: Willem Alberts, Wandisile Simelane en Burger Odendaal. Doelskoppe: Elton Jantjies (3).

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Regtig niks om opgewonde oor te raak nie,want dit het by tye gelyk of die skeidsregter meer van blou as rooi gehou het gemeet aan die skewe lynstaan ingooie.As enigiemand dink ongeag die weersomstandighede dat die 4 spanne beter in die Noorde as die Suide gaan vaar dink weer.
Dalk is dit ‘n goeie ding dat die spanne nie meer teen Kiwi of selfs Aussiespanne speel nie want gemeet aan dit wat opgedis is-sou daar net moeilikheid op hul gewag het.
Die Leeus kort ‘n afrigter wat dit duidelik aan spelers gaan maak as hul dissipline nie verbeter nie hul nie langer eerste keuse gaan wees nie.

Josua ·

Ek sê dit nie sommer nie maar geluk aan die bulle. Rasta het die Leeus stukkend geblaas en nie n oomblik gegee om in die wedstryd te kom nie, dan vertraag hy boonop nog die wedstryd met “stop start” taktiek en ja ek is n Leeu ondersteuner maar wraggies was daar net n een span op die veld en die ander span ken nie hul reels nie snert man!!! Met 13 spelers op die veld ‘n hengse klomp strafskoppe teen die leeus agter mekaar nogal, dit mag dalk na suur drywe klink maar regverdigheid vra niks nie en die lyn regters het ook nie opgedaag by die veld nie. Rasta blaas onder die algemeen nie sleg nie maar hy het beslis die semi finaal behoorlik op gedons. Die leeus het verloor met die punte wat teen hulle aangeteken was toe 13 manne op die veld was asook die strafskoppe wat teen hulle gegee was. Jantjies het geleenthede verbrou om pale toe te gaan en die kantlyn verkies, dit was ook net so ‘n groot oordeels vout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.