Bulls bó in Loftus-stryd

Embrose Papier duik oor vir sy drie. Foto: GB Jordaan.

Die Bulls se impakspelers het vanmiddag hul deel gedoen om toe te sien dat die Pretorianers die Sharks met 40–27 op Fort Loftus getroef het.

Sodoende tel die Bulls nou onder die topspanne op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer.

Die eerste 40 minute het ʼn taai stryd opgelewer. Marcell Coetzee het oudergewoonte ʼn drie vir sy span gedruk, maar Marnus Potgieter het net vóór rustyd vir die Sharks ʼn hupstoot gegee toe hy om die tuisspan se verdedigers gedans het.

Maar Jake White se span weet hoe om rugby op Loftus Versfeld te speel en wanneer dit nodig is, kan hulle met gemak na ʼn hoër rat oorskakel.

Die Sharks het weliswaar ʼn voorsprong van 20–19 opgebou, maar moes amper magteloos toekyk hoe Embrose Papier, Stravino Jacobs en Jan-Hendrik Wessels hul pad oor hul doellyn vind.

Toe Phepsi Buthelezi sy troosdrie vir die Sharks gedruk het, het die Bulls se plaasvervangersbank reeds hopeloos te veel skade aangerig.

Die Sharks is egter nie die eerste span wat al in die tweede helfte teen die begeesterde Pretorianers vasgeval het nie.

Aphelele Fassi het goeie rugby vir die Durbaniete gespeel, terwyl Chris Smith 20 punte met sy skopskoen vir die Bulls aangeteken het.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Marcell Coetzee, Embrose Papier, Stravino Jacobs en Jan-Hendrik Wessels. Doelskoppe: Chris Smith (4). Strafskoppe: Smith (4).

Sharks: Drieë: Marnus Potgieter, Aphelele Fassi en Phepsi Buthelezi. Doelskoppe: Boeta Chamberlain (3). Strafskoppe: Chamberlain (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lourens ·

Hoe daai laaste drie toegeken kon word sonder enige afwaartse druk op die bal, sal net die beamptes weet.

piet ·

Ja nee wragtag. Dit bring my by nog ‘n punt – ek neem aan hierdie TMO’s se skermpies is baie klein. Dit maak vir my sin as hulle na ‘n groot UHD skerm kan kyk vir beslissings. Dit sal dan baie makliker wees om byvoorbeeld te sien dat daar ‘n spasie tussen ‘n hand en die bal is (soos byvoorbeeeld dat die speler die bal eintlik verloor het).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.