Bulls kan vuur met vuur in Durban beveg

Madosh Tambwe. Foto: GB Jordaan.

Rugby is ’n spansport, maar daar wag môreaand ’n paar lekker individuele tweestryde wanneer die Bulls teen die Sharks in Durban speel.

Die tuisspan is gelaai met Springbokspelers, maar in Madosh Tambwe, Kurt-Lee Arendse, Cornal Hendricks en kie spog die Pretorianers met ’n ewe gevaarlike agterlyn, terwyl die immergroen Morné Steyn ongetwyfeld die toutjies as losskakel sal trek.

Voorlangs sal Bismarck du Plessis teen Bongi Mbonambi in die skrums sak, terwyl Marcell Coetzee en Siya Kolisi ook sake sal uitspook.

Jake White, die Bulls se afrigter, het vroeër gesê dat sy span daarna uitsien om teen die sterbelaaide Sharks-groep te speel. En as ’n mens so na sake kyk, hoef die Pretorianers ook nie juis vir iemand terug te staan nie.

“Oor die afgelope 18 maande het ons stadig maar seker as ’n span gevorder en ons is opgewonde om te sien hoe ons vyftiental teen ’n groep met spelers soos Bongi Mbonambi, Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi sal vertoon. Dit gaan beslis ’n goeie toets wees om te sien of ons onder druk teen ’n sterk span weg van die huis kan presteer,” het White gesê.

Bulls: Kurt-Lee Arendse (heelagter), Madosh Tambwe (regtervleuel), David Kriel (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Richard Kriel (linkervleuel), Morné Steyn (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Robert Hunt (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima, Lizo Gqoboka, Jacques du Plessis, Sintu Manjezi, Zak Burger, Chris Smith en Harold Vorster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Kom ons wag en kyk wat vermag die ster gelaaide span. Go Bulls.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.