Bulls laat Loftus glimlag

Marcell Coetzee lei die Bulls op die veld. Foto: GB Jordaan.

As ’n mens vandag so vinnig moes skat, sou jy waarskynlik gesê het dat daar meer as 20 000 toeskouers op Loftus Versfeld was. En ná 80 minute se spel het elke liewe Bulls-ondersteuner met ’n glimlag huiswaarts gekeer.

Want die tuisspan het die krane omtrent in die tweede helfte oopgedraai om vier drieë vir ’n bonuspuntsege teen Ulster te druk.

Die eindtelling van 34–16 vertel die storie van die Bulls se oorheersing in die laaste helfte – veral as jy in ag neem dat die besoekers rustyd met 9–3 voorgeloop het.

Duane Vermeulen het ’n stewige vertoning vir Ulster gelewer. Hy is in die 51ste minuut vervang. Foto: GB Jordaan.

Die Ierse spelers is lekker fiks en hul voorspelers het veral in die openingsalvo’s dinge vir die tuisspan moeilik gemaak – hulle het goed getêkkel, beter verdedig en die beste vir die gevegte op die grond gelos.

Maar soms het ’n kruitvat net ’n vonkie nodig om te ontplof en Madosh Tambwe het kort ná rustyd met ’n goeie lopie vlamgevat.

Ja, hy het die bal op die doellyn verloor, maar skielik het die Bulls lewe gekry en ’n skitterende Marcell Coetzee het ’n rukkie later vir die eerste drie van die wedstryd gesorg.

Die Bulls-kaptein (en voormalige Ulster-ster) kan baie tevrede wees met sy spel; selfs ’n geel kaart laat in die wedstryd kon nie veel van ’n demper op sy vertoning plaas nie.

Tambwe se ondernemingsgees is met ’n drie van sy eie beloon, terwyl Johan Grobbelaar ook vir punte gesorg het.

Kurt-Lee Arendse – wat deurgaans ’n doring in Ulster se vlees was – se onderskeppoging was die laaste spyker in die Iere se doodskis.

Foto: GB Jordaan.

Vier drieë in een helfte teen die naasbeste span op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer sal die vreugdevure hoog in Pretoria laat brand.

Die entoesiastiese toeskouers laat hierdie oorwinning net soveel beter smaak.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Marcell Coetzee, Madosh Tambwe, Johan Grobbelaar en Kurt-Lee Arendse. Doelskoppe: Chris Smith (2) en Morné Steyn (2). Strafskoppe: Smith (2).

Ulster: Drie: Luke Marshall. Doelskop: Nathan Doak. Strafskoppe: Doak (3).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.