Bulls moet vuur met vuur beveg

Die Bulls speel vanaand teen Leinster in die halfeindstryd van die VRK. Foto: GB Jordaan.

Daar wag vanaand in Dublin een van die moeilikste take in wêreldrugby op die Bulls – om vir Leinster in ’n uitspeelwedstryd te klop en sodoende na die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) deur te dring.

Deksels moeilik, maar doenbaar, meen Conrad Breytenbach.

Breytenbach se hart klop warm vir Bulls-rugby – hy was immers die speler wat in 1998 die openingsdrie in die Pretorianers se suksesvolle Curriebeker-eindstryd teen die Westelike Provinsie gedruk het. En dit was teen ’n Streeptruispan gelaai met sterre soos Bob Skinstad en Percy Montgomery.

Nou glo hy dat die Bulls weer eens met ’n sterk span kan afreken; mits hulle bereid is om vuur met vuur te beveg en nie ’n tree vir hul Ierse teenstanders terug te staan nie.

“Die Bulls moet vir Leinster in die loopgrawe van die RDS-arena aanvat en hulle onder kwaai druk plaas. Die span is bekend daarvoor dat hulle die vaste fasette kan oorheers en hulle beskik oor die nodige krag om die Iere hoofbrekens te gee,” het Breytenbach gesê.

“Wen of verloor, Leinster moet weet dat die Bulls in die omtrek was.”

Loopgraaf-oorlogvoering kan ’n baie taai uitdaging wees en ’n sterk leier is nodig om te sorg dat sy troepe in hul vermoëns glo, terwyl hy deur sy optrede (of spel) dan ook die toonbeeld van ’n onverskrokke speler moet wees.

En Breytenbach meen dat die Bulls só ’n leier in Marcell Coetzee het.

Die 31-jarige losvoorspeler beïndruk vriend en vyand met sy inklimspel en hy plaas gereeld sy span op die voorvoet.

“Marcell is ’n speler wat altyd oor die voordeellyn kom en hy is ook een van die reeks se off-load-sterre. Terselfdertyd is die Bulls se vaste vyf ook ’n groot sterk punt en dit beteken dat hulle die wedstryd voorlangs kan oorheers.”

As ’n oudskrumskakel is Breytenbach ook in sy noppies met Zak Burger en Chris Smith se spel.

Madosh Tambwe is ’n gevaar op die aanval. Foto: GB Jordaan.

“Chris het verlede naweek die wenskepskop as’t ware deur ’n spinnekop se web gestuur – daar was soveel arms en hande wat daardie skop probeer keer het. ’n Mens moet ook onthou dat die Bulls een van die topspanne op die aanval is – daarvan getuig hul driedrukrekord in die reeks.”

Die Pretorianers het op 25 September 2021 ’n Europese vuurdoop soos min in Dublin gehad toe Leinster hulle met 31 – 3 oorrompel het.

Sedertdien het die Bulls egter hul voete teen Europese teenstanders gevind en hulle kan met die beste saamgesels.

“In die aanloop tot die reeks het die Europese manier van speel die span effens onkant betrap. Ons is nou baie meer ervare en ons het meer begrip vir hul spelpatroon – hoe hulle ’n losgemaal benader, geduldig fases opbou, ensovoorts. Teen hierdie tyd weet die Bulls wat om in Europa te verwag.”

Maar hoe voel ’n doodgewone Bulls-ondersteuner oor die wedstryd, kan die Pretorianers wen?

“My hart sê ja,” is Hanlie Putter se onmiddellike antwoord.

“Die Stormers moet dan ook net vir Ulster klop en ek vlieg beslis Kaap toe vir die eindstryd!”

Die moontlikheid van twee Suid-Afrikaanse spanne in die eindstryd? Wie sou só iets aan die begin van die toernooi kon voorspel.

  • Die Bulls‑Leinster-wedstryd begin vanaand om 20:35 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Bulls: Canan Moodie (heelagter), David Kriel (regtervleuel), Cornal Hendricks (buitesenter), Harold Vorster (binnesenter), Madosh Tambwe (linkervleuel), Chris Smith (losskakel), Zak Burger (skrumskakel), Elrigh Louw (agtsteman), Arno Botha (flank), Marcell Coetzee (kaptein en flank), Ruan Nortjé (slot), Walt Steenkamp (slot), Mornay Smith (stut), Johan Grobbelaar (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Bismarck du Plessis, Simphiwe Matanzima, Robert Hunt, Janko Swanepoel, WJ Steenkamp, Embrose Papier, Morné Steyn en Kurt-Lee Arendse.

Leinster: Jimmy O’Brien (heelagter), Jordan Larmour (regtervleuel), Garry Ringrose (buitesenter), Robbie Henshaw (binnesenter), Rory O’Loughlin (linkervleuel), Ross Byrne (losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Jack Conan (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Caelan Doris (flank), James Ryan (kaptein en slot), Joe McCarthy (slot), Tadhg Furlong (stut), Dan Sheehan (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Sean Cronin, Cian Healy, Michael Ala’alatoa, Ross Molony, Ryan Baird, Luke McGrath, Johnny Sexton en Ciaran Frawley.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kokkie ·

Dit gaan my verstand te bowe dat Marcel Coetzee nie in aanmerking kom vir die springbokspan of sg. ‘belyningskampe’ nie. ( ek wonder sommer wat ou Frik en Mannetjies oor die ‘belyningskampe’ te sê het.)
Terug by Marcel: is die afrigters dalk bekommerd dat hy stof in die oë van hulle ‘gevestigde’ losvoorspelers kan skop? Myns insiens is daar nie tans ‘n beter SA- losvoorspeler ( tuis of elders) as Marcel nie.

Lourens ·

Dis van meet af aan moeilik om Kolisi se insluiting te regverdig. Om nie eers van sy kapteinskap te praat nie.

MakersMark ·

Gelukkig is hy ingesluit. Stem hy is nie net die beste losvoorspeler nie maar kaptein ook. Bly Elrigh Louw is ook gekies. Jammer Arno Botha is nie ook in die bok groep nie. Hy is darem beter as Deon Fourie. .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.