Bulls slaan ʼn slag op Ellispark

David Kriel druk die Bulls se vierde en laaste drie teen die Lions. (Foto: GB Jordaan)

As ʼn rugbyskouspel gaan dit hoegenaamd nie die toekenning vir die beste nóg ontvang nie, maar die Bulls het ʼn belangrike Verenigde Rugbykampioenskap-slag geslaan toe hulle die Lions met 25 – 10 op Ellispark geklop het.

Boonop het die besoekers vier drieë gedruk om vir verdere punteleermomentum te sorg.

Die eerste helfte was egter ʼn vervelige storie met al twee spanne wat maar voel-voel-rugby gespeel het. Aanslane en lugskoppe het hoogty gevier en wanneer daar wel pale toe gekorrel is, het Sanele Nohamba en Jaco van der Walt telkemale skeefgekorrel.

Die hoogtepunt was Embrose Papier se visie om vir ʼn dansende Canan Moodie deur te jaag vir die eerste drie van die kragmeting.

Teen rustyd was die telling 5 – 3 in die Bulls se guns.

(Foto: GB Jordaan)

In die tweede helfte kon die Pretorianers darem na ʼn hoër rat oorskakel en drieë deur Akker van der Merwe en Marcell Coetzee het hul voorspeleroorheersing onderstreep.

So gepraat van voorspelers: Gerhard Steenekamp het ʼn barshou vir die Bulls gespeel en hy het die Lions-skrum knaend onder druk geplaas.

Daarbenewens het hy ook later in die tweede helfte sy ore platgetrek om sy span uit die moeilikheid te hardloop.

David Kriel se vlieënde drie – toe hy sy eie skoppie agternagejaag het – was die finale spyker in die Lions se doodskis.

Die tuisspan sal hulself waarskynlik skop wanneer hulle later beeldmateriaal van die wedstryd ontleed: Verspeelde kanse en swak hanteerwerk het tot hul frustrasie bygedra, terwyl Richard Kriel se drie nie toegeken is nie omdat die bal vorentoe uit Nohamba se hande beweeg het.

Quan Horn se drie het later gewys waartoe die span in staat is nadat die Bulls-heelagter, Devon Williams, nie die bonsende bal op die Pretorianers se doellyn kon bemeester nie.

Maar toe was dit al reeds te laat vir die tuisspan.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Canan Moodie, Akker van der Merwe, Marcell Coetzee en David Kriel. Doelskop: Johan Goosen. Strafskop: Goosen.

Lions: Drie: Quan Horn. Doelskop: Jordan Hendrikse. Strafskop: Sanele Nohamba.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.