Bulls teen Leinster – groot stryd wag in Dublin

Willie le Roux begin op heelagter vir die Bulls. (Foto: GB Jordaan)

Dis Jake White teen Jacques Nienaber, Elrigh Louw teen Josh van der Flier en Bok teen Ier wanneer die Bulls vanaand teen Leinster in Dublin kragte meet.

Die Pretorianers spog met twee oorwinnings teen die Ierse reuse en White het in aanloop tot die tweestryd gesê dat die kragmeting ʼn uitstekende maatstaf vir die Bulls is om te sien waar hulle lê.

“Ons het goed voorberei en al die spelers is gereed vir aksie, behalwe Sebastian (de Klerk) wat verlede week ʼn hou teen die kop gekry het,” het die Bulls se direkteur van rugby gesê.

White is egter opgewonde oor die uitdaging wat op sy span in die RDS-arena wag.

“Ek het verneem dat die kaartjies vir die wedstryd uitverkoop is en dit is goeie nuus vir die spelers, want dit beteken dat ons as ʼn span iets reg op die rugbyeld doen. Mense wil die Bulls in aksie sien.”

Die Leinster-ringkoppe het ook ’n baie sterk groep gekies met ’n magdom Sesnasies-wenners in die span.

“Dit is ’n baie groot wedstryd – dit is die topspanne op die Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer wat teen mekaar speel en Leinster se sterre sal ongetwyfeld ook op hul beste wil wees.”

Die wedstryd begin vanaand om 21:35 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Spanne:

Bulls: Willie le Roux (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Canan Moodie (buitesenter), David Kriel (binnesenter), Devon Williams (linkervleuel), Johan Goosen (losskakel), Embrose Papier (skrumskakel), Marcell Coetzee (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (slot), Ruan Vermaak (slot), Wilco Louw (stut), Akker van der Merwe (haker) en Gerhard Steenekamp (stut). Plaasvervangers: Johan Grobbelaar, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Reinhardt Ludwig, Mpilo Gumede, Zak Burger, Chris Smith en Harold Vorster.

Leinster: Jordan Larmour (heelagter), Rob Russell (regtervleuel), Robbie Henshaw (buitesenter), Jamie Osbourne (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Harry Byrne (losskakel), Luke McGrath (skrumskakel), Jack Conan (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Ryan Baird (flank), Joe McCarthy (slot), Ross Molony (slot), Michael Ala’alatoa (stut), Ronan Kelleher (haker) en Cian Healy (stut). Plaasvervangers: Dan Sheehan, Michael Milne, Tadhg Furlong, Jason Jenkins, Caelan Doris, Jamison Gibson-Park, Ross Byrne en Liam Turner.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.