Cane het steeds rede om te glo

Nieu-Seeland se Sam Cane. Foto: Phill Magakoe/AFP.

“Drie op ’n streep” mag dalk soos ’n Noot vir noot-speletjie klink, maar dit is hoeveel agtereenvolgende wedstryde die All Blacks reeds vanjaar verloor het. Nietemin meen die Nieu-Seelandse kaptein daar is steeds rede om te hoop.

Sam Cane se span het eers met 23 – 12 teen Ierland in Dunedin vasgeval, waarna hulle ’n week later die reeks teen die Iere in Wellington met 32 – 22 gehensop het. Dan was verlede Saterdag se uitslag op die Mbombela-stadion een van die All Blacks se grootste nederlae nóg.

Dit is nie aldag dat die Nieu-Seelanders met 16 punte teen die Springbokke verloor nie.

En volgens Cane kan die span beslis aanvoel hoe dinge in die drukkoker van internasionale rugby net warmer vir hulle word.

“Ek sal jok as ek sê dat ons nie onder druk is nie.  Ja, daar is altyd druk op jou as ’n speler wanneer jy vir die All Blacks uitdraf, maar tans ervaar ons dit meer as vantevore,” het die All Blacks-kaptein gesê.

Hy het ook vir Ian Foster in die bres getree. Onder die beleërde afrigter se toesig het die Kiwi’s reeds nege toetse verloor en Nieu-Seelandse media eis sy kop.

Tog glo Cane dat die All Blacks vir soveel meer as net die hoofafrigter se loopbaan speel wanneer hul Saterdag teen die Springbokke in Johannesburg kragte meet.

“Die Vryheidsbeker is op die spel, ons speel op Ellispark en ons is desperaat om ’n baie beter vertoning te lewer.”

Hy het bygevoeg dat die spelers oorgehaal is om vir verlede week se nederlaag te vergoed.

“Ons is natuurlik teleurgesteld met ons vertoning en dinge sou waarskynlik baie erger gewees het as ons moes huis toe gaan en op ’n vliegtuig oor alles gesit en dink het. Maar nou kry ons nog ’n kans om teen die Springbokke te speel en dit is ’n baie opwindende vooruitsig.”

Jacques Nienaber het ook gister tydens die Springbok-spanaankondiging gewaarsku dat die All Blacks weer eens nie onderskat moet word nie.

“Net soos ons gooi hulle nooit handdoek in nie en hulle het in Nelspruit tot die laaste sekonde van die wedstryd aanhou baklei. Ons verwag ’n soortgelyke stryd in Johannesburg,” het die Suid-Afrikaanse afrigter gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lourens ·

Die “Vryheidsbeker” – een van die mees gesogte trofeë . . .

Kirst ·

Die AB’s het al meninmale erken dat die Springbokke hulle mees gedugte teenstanders is waarvoor hulle die bangste is.

Niklaas ·

Die Bokspan is tans op ‘n goeie plek. Al verwag ons een verbete poging van die Allblacks , glo (en hoop) ons op nog ‘n oorwinning vir die Bokke. Ons kan dit doen !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.