Nodeloos om te sê loop Johan Deysel ná die Marseille-wedstryd onder aanlyn boelies deur – Antoine Dupont is baie gewild en hy is Frankryk se beste speler – en Jacques Burger het saam met Allister Coetzee vir die Namibiese kaptein in die bresse getree.
“Johan Deysel is een van die vriendelikste en nederigste mense wat ek ken. Hy hou daarvan om hard te speel en hy geniet sy rugby. Hy wou hoegenaamd nie vir Dupont beseer nie, maar dit is rugby vir jou. Hy het om verskoning gevra en ek hoop mense vergewe hom,” het Burger, ’n voormalige Namibiese en Saracens-speler, gesê.
Coetzee, oud-Springbokafrigter wat deesdae Namibië se afrigtersleisels vashou, het die duikslag as ʼn ongelukkige voorval beskryf.
“Dit was hoegenaamd nie opsetlik nie en alles het so vinnig gebeur. Dupont is nie die langste ou nie, terwyl Johan hoegenaamd nie ʼn vuilspeler is nie. Hy het ʼn skoon kaartrekord en hy is ʼn goeie verdediger.”
“Dit [die rooikaartbeslissing] is weliswaar nie onregverdig nie, maar dit is hartseer dat dit met hom moes gebeur. Hy is die kaptein, ʼn onverskrokke speler en die gom wat die span bymekaarhou,” het Coetzee gesê.
Johan Deysel is one one of the kindest,most humble blokes I know. He likes to hit hard and enjoys his rugby. There is no chance he wanted to injure Dupont but this is rugby. He has apologized and I hope people can forgive him ????????
— Jacques Burger (@Nabasboer) September 22, 2023
Die voorval het in die 46ste minuut van die Namibiërs se Wêreldbeker-wedstryd teen Frankryk plaasgevind.
Die 31-jarige Deysel is aanvanklik met ʼn geel kaart van die veld gestuur nadat hy en die Franse kaptein hard teen mekaar koppe gestamp het, maar die bunker-beampte het dit ʼn kort rukkie later met ʼn rooi kaart vervang.
Daarteenoor is Dupont na ʼn hospitaal gehaas om die omvang van sy besering te bepaal en die Franse rugbybase het later bevestig dat hy ʼn fraktuur aan sy sigomatiese been (wangbeenboog) opgedoen het.
Die Namibiër het intussen ook ’n opgregte boodskap vir die Franse rugbykaptein gereed gehad.
“Ek wil graag my beste wense aan Antoine Dupont oordra. Ek het dit ongetwyfeld nie met opset gedoen nie. Alles het baie vinnig gebeur en ek kon nie gou genoeg my kop uit die pad kry nie. Ek ken die reëls en regulasies en ek het dadelik geweet dat ek ʼn fout gemaak het,” het Deysel gesê.
Volgens die 31-jarige senter het hy direk ná die wedstryd ook vir Fabian Galthié (Frankryk-afrigter) om verskoning gevra.
“Ek het my beste wense persoonlik én via die Franse spandokter aan Antoine oorgedra. Hy is ʼn wonderlike speler en mens en ek wens hom spoedige beterskap toe.”
