Curriebeker: Griekwas bly veg teen Leeus

(Foto: Curriebeker/Facebook)

Kort voordat die eindfluitjie Vrydagmiddag in Kimberley geblaas het in die Curriebekerwedstryd tussen Griekwaland-Wes en die Leeus, het Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, bekommerd op en af voor die span se plaasvervangersbank en beamptes voor die hoofpawiljoen gestap.

ʼn Mens kon die horlosie terugdraai, toe Straeuli nog destyds vir die Leeus/Transvaal gespeel het en in Kimberley teen André Markgraaff se goed geoliede Griekwas moes wal gooi.

Die Leeus is Vrydag weer deur die vinnige begin van Griekwas onkant betrap en met 25 – 21 verslaan.

Dink maar terug daaraan toe begaafde agterspelers soos Gaffie du Toit, Boeta Wessels, Robert Markram, Lourens Venter, Edrich Lubbe en Jearus Nicholas destyds op soortgelyke wyse vir Griekwas teen die Leeus amok gesaai het.

Griekwas het toe ook baljaar, hulle het gehol en getêkkel, net soos Vrydag, terwyl die donker wolke oor die stadion saamgepak het.

Donker wolke van onsekerheid in die Leeus-kamp.

Nou is die skoen aan die ander voet en moet Straeuli opnuut die vure probeer doodslaan, red wat te redde is.

Met slegs ʼn paar minute oor, was die telling 25 – 21 in Griekwas se guns. Boonop moes die Poubloues met 14 spelers op hul eie doellyn klaarkom nadat die plaasvervanger-haker Sean Swart met ʼn geel kaart afgestuur is vir ʼn skouerduikslag in ʼn losskrum.

Die Leeus was op die weegskaal. As hulle ʼn drie sou druk, sou hulle tot vierde op die puntelys opgeskuif het en ʼn goeie kans gestaan het om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.

Maar ʼn verloorslag sou alles beduiwel het.

Griekwas het vasgebyt, die een na die ander aanslag van die Leeus met slegs sewe voorspelers en ʼn senter in die skrum, wat in trurat was, afgeweer.

Griekwas (23 punte) het uiteindelik met 25 – 21 gewen en het bo die Leeus (sesde op 20 punte) tot vierde op die punteleer opgeskuif.

Nadat die eindfluitjie geblaas het, kon ʼn mens die vreugde in die Griekwas-kamp sien. Hulle het gejuig, mekaar op die skouer geklop, want hul seisoen was weer op koers.

Vir die Leeus was dit nog ʼn hartseer hoofstuk in ʼn seisoen wat belofte getoon het, maar ook vol mislukkings was.

Hulle is nou met die rug teen die muur en moet nog teen die Cheetahs in Bloemfontein, die Blou Bulle (Ellispark) en die WP in Kaapstad speel.

Hul seisoen hang steeds aan ʼn dun draadjie.

Puntemakers: Griekwas 25 (19): Drieë: Jay-Cee Nel, Hanru Sirgel, Johan Mulder. Doelskoppe: Lubabalo Dobela (2). Strafdoele: Dobela (2). Leeus 21 (7): Drieë: Strafdrie (7 punte), JC Pretorius, Morné Brandon. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.