Curriebeker: Pumas trap Haaie se tjank af

Die Pumas tydens ‘n vorige wedstryd (Maart 2022). Foto: Twitter.

Die Pumas se rugbyspan het Vrydagaand op Kingspark in Durban die agterdeur oopgeskop om vir die halfeindronde van die Curriebekerreeks te kwalifiseer, terwyl die Haaie nou met die rug teen die muur is.

Die Pumas het die kragmeting met 20-10 gewen nadat hulle rustyd met 17-3 voor was.

Die Haaie (24 punte) is steeds voor die Pumas (19) op die puntelys, maar die Pumas het een wedstryd minder gespeel. Nadat die Haaie ook tuis verloor het, sal hulle hul spelpeil moet lig. Boonop het die Pumas genoeg momentum vir die res van die reeks gekry.

ʼn Mens weet nie werklik watter spelpatroon die Haaie wil volg nie. Daar is niks fout daarmee om die voorlangs die grondslag te lê nie, maar dan moet jy darem ook die bal wyd kan rek deur drieë te druk.

Dis presies hoe die Pumas speel.

Dit het Vrydagaand eerder gelyk asof die Haaie net naby die Pumas se doellyn wou kom en dan met rolmale drieë probeer druk.

Teen die Pumas gaan dit nie werk nie, want die afrigter Jimmy Stonehouse en sy Pumas floreer met dieselfde taktiek. Al verskil is dat die heelgter Devon Williams en die vleuels Sebastian de Klerk en Tapira Mafura die pad doellyn toe ken.

Met Eddie Fouche, die versoolde losskakel wat nou op senter uitblink en Tinus de Beer in die nr.10 trui, gee dit die vaardige skrumskakel Chriswill September genoeg geleenthede om die bal voor die pak te hou.

Boonop het hulle twee ysters in losvoorspelers Willie Engelbrecht en Daniel Maartens. Hulle staan nie hul eie besit af nie en maak die teenstanders se besit stadig.

Die Haaie, wat in die eerste helfte net op ʼn skepdoel deur Boeta Chamberlain kon staatmaak, het in die tweede helfte die oorhand gehad, maar kon nie behoorlik afrond nie en net een drie druk.

Punte: Pumas 20 (17): Drieë: Devon Williams (2). Doelskoppe: Eddie Fouché (2). Strafdoele: Fouché (2).

Haaie 10 (3): Drie: Fez Mbatha. Doelskop: Boeta Chamberlain. Skepdoel: Chamberlain.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jakes ·

As n vurige sharks ondersteuner kan ek nie glo hoe beide die Sharks kampioenskapspan sowel die CB span sulke swak rugby opdis nie. Die Sharks konsessie koop sogenaamd die beste spelers in die land maar resultate op die veld vertel n ander storie. Ek dink aan n paar redes hiervoor maar sal liewer stilbly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.