Curriebeker: Sharks druk sewe keer teen Pumas, maar …

SuperRugby_rugbybal.jpgDie Pumas-rugbyspan het ʼn paar seisoene gelede die gebruik gehad om met rustyd truie te ruil. Van grys na pienk … en dit het hul teenstanders baie keer onkant betrap en vrugte afgewerp, want die Pumas het veral in die tweede helfte hul man behoorlik gestaan, en só ook ʼn paar oorwinnings behaal.

Met beperkte spelersgetalle, ʼn rits beserings en die Covid-19-pandemie wat vanjaar onder die Laevelders maai, is die bulte soveel steiler, maar weens hul kanniedood-benadering vaar die Pumas steeds beter in die tweede helfte.

Die Sharks het Vrydagaand in Durban rustyd met 31-3 in hul Curriebekerwedstryd voorgeloop en teen die einde met 45-10 gewen, wat beteken het dat die Pumas die tweede helfte met 7-14 ‘’verloor’’ het.

Dit was verlede week dieselfde storie op Loftus Versfeld toe die Bulls rustyd met 21-0 voor was, maar hulle kon hul laaste kragmeting in die Superrugby Unlocked-reeks teen die Pumas net met 21-5 wen.

Die Sharks was Vrydagaand stukke beter as die Pumas en het verdien om te wen, al is vier van hul drieë met wurgrugby gedruk.

Die Sharks se instaankaptein, Jeremy Ward, het vroeg in die wedstryd die kraan oopgedraai toe hy ʼn skop van Devon Williams afgestorm het en gaan druk het. Later het hy ook agter die doellyn ʼn bal toegeval toe die Pumas nie die bal kon wegkry nie.

Dan het die oud-Bokvleuel Sbu Nkosi (hy het twee drieë gedruk) die bal van ʼn afskop af uit die lug gepluk het en gaan druk. Later het hy ook ’n aangee van Williams onderskep en deurgenael vir sy tweede drie.

Die Sharks is besig om met ʼn wurgpatroon, en die skopstewels van Sanele Nohamba en Curwin Bosch, die teenstanders in hul gebied vas te pen.

Kan hulle die Curriebeker só wen? Dis ʼn moeilike vraag, want die tekens is daar, maar om dit genoeg gaan wees om die Bulle of WP (en selfs die Cheetahs en Leeus te troef) gaan nie so maklik wees nie.

Tog was daar genoeg opflikkerings in die eerste helfte teen die Pumas om genoeg moed te skep.

Punte: Sharks 45 (31): Drieë: Jeremy Ward (2), Sanele Nohamba, Kerron van Vuuren, Dylan Richardson, Sbu Nkosi (2). Doelskoppe: Curwin Bosch (5).

Pumas 10 (3): Drie: Phumzile Maqondwana. Doelskop: Ginter Smuts. Strafdoel: Smuts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Nouja Supersport se Curriebekertabel lees tans soos volg vir die Sharks:
Speel 7 wen 5,1 gelykop,1 verloor 24 punte.
Ander tabel lees : Speel 1 wen 1 gelykop 0 verloor 0 24 punte.
Nouja die tabelle praat boekdele vir die verwarde denke van wie ook al die stelsel uitgedink het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.