Curriebeker: Speel Haaie kopspeletjies met drag slae teen WP?

(Foto: SuperSportRugby/Twitter)

Moet dalk nie te veel daarin lees dat die Haaie Saterdagmiddag in hul laaste groepwedstryd in vanjaar se Curriebekerreeks met 44 – 5 deur die Westelike Provinsie in Kaapstad vermorsel is nie.

Nadat die Haaie sewe opeenvolgende oorwinnings in die reeks behaal het, was hulle in hul laaste groepwedstryd die kluts heeltemal kwyt. Inteendeel, hulle het groot skandes gemaak.

Dit kan beslis nie goed wees vir hul momentum voor die halfeindronde nie, want van samespel was daar min sprake. Boonop het hulle swak verdedig, hanteerfoute begaan en verkeerde opsies uitgeoefen.

Maar plaas al die kaarte op die tafel.

Daar was baie min op die spel vir die Haaie, want hulle was reeds in die halfeindronde.

Hulle het met ʼn vreemde span gespeel, wat verskeie spelers ingesluit het wat in die Verenigde Rugbykampioenskap gespeel het. Die meeste van hulle het glad nie beïndruk nie en was sonder vuur.

Wat gaan die afrigter Joey Mongalo nou doen?

Gaan hy terugval op die spelers wat die Haaie tot uitspeelrondes laat vorder het, of gaan hy die VRK-spelers nog ’n kans gee.

Weeg sake op: Die Cheetahs speel in die een halfeindronde teen die Blou Bulle in Bloemfontein, terwyl die Haaie op Kingspark in Durban teen die Pumas speel.

Teen wie sal jy eerder wil speel? Teen ʼn gewonde Blou Bul-span wat weke al met VRK-spelers speel of teen die Pumas, wat met beserings sukkel.

Onthou gerus ook wat jare lede gebeur het, om presies te wees op 6 Oktober 1990.

Noord-Transvaal het destyds slegs twee weke voor die eindstryd ’n wegholsege van 28 – 6 oor Natal op Loftus in die spanne se laaste groepwedstryd behaal.

Natal is geen kans in die eindstryd gegun nie, maar hulle het die Ligbloues met ʼn slap riem gevang en die eindstryd met 18 – 12 op Loftus gewen.

Maar dit kan boemerang, want die Haaie was Saterdag swak, uiters swak.

En die WP? Hoekom het hulle nie vroeër in die reeks dieselfde spel opgedis nie?

Hulle was vuurwarm, met veral Clayton Blommetjies en Ben Jason-Dickson wat uitmuntend gespeel het.

Hulle was vol ondernemingsgees, het baie goed verdedig en het hul kanse uitstekend gebruik.

Met die oog op die toekoms gaan rugby in die Kaap blom met sulke briljante jongelinge.

Puntemakers: Westelike Provinsie 44 (27): Drieë: Marcel Theunissen, Ben-Jason Dickson, Hacjivah Dayimani (2), Ruben van Heerden, Jarrod Taylor. Doelskoppe: Jurie Mathee (4). Strafdoele: Matthee (2).

Haaie 5 (0): Drie: Marnus Potgieter.

Finale puntelys (onder span, wedstryde gespeel, gewen, verloor, gelykop, punteverskil, ligapunte):

Cheetahs1494111551
Haaie1410406048
Pumas1486014440
Blou Bulle14770-1638
WP147704237
Leeus14680-436
Griekwas14761-3535
Griffons141130-30610

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.