Daar was niks lekkerder as ’n rugbyonthaal nie

loftus6

Loftus Versfeld. Argieffoto.

In die ou dae het daar kwalik ʼn rugbywedstryd sonder ʼn onthaal verbygegaan.

Dis dan wanneer die bonde uitgehang het om te wys dat hul kospotte, net soos hul span, met die bestes kon saamgesels.

Op Ellispark, Loftus Versfeld, Kingspark, die Vrystaat-stadion en Nuweland is daar van buite-spyseniers gebruik gemaak wat omtrent uitgehang het.

Die kroeë is gewoonlik deur oudklubspelers beman en as jy met hulle bevriend was, is jou bierglas betyds gevul net voordat die ellelange toesprake begin het.

Die twee unie-presidente was eerste aan die beurt, gevolg deur die twee spanbestuurders en dan het die twee kapteins altyd vertel hoe hard die wedstryd was en hoe goed die ander span gespeel het. Dis altyd begroet met “hoor-hoor!”.

Daar was altyd geskenke soos lapelwapens en dasse aan die ander span uitgedeel en die mikrofoon het gewoonlik ʼn lang fluit of twee gegee wanneer die toesprake gehou is.

Tuisspelers wat vyf of ses wedstryde gespeel het, is onder groot toejuiging met ʼn kleurbaadjie beloon.

Aan die een kant van die saal was tafels en tafels vol lekkernye soos frikkadelle, hoender, vis, worsrolletjies, gevulde eiers, samoesas, toebroodjies, koeksusters en melktertjies. Die hele saal het in afwagting gewag dat die destydse unie-sekretaris en later die uitvoerende hoof, die teken moes gee dat die foelie van die borde af verwyder kon word.

Dan was daar weer ʼn losskrum, net soos vroeër die middag.

Op Loftus het ek my altyd verwonder aan die groot foto’s van die helde van weleer wat teen die mure van die Fritz Eloff-saal gepryk het. Dit het jou laat voel asof jy ʼn heiligdom betree, een waarvoor jy deur die jare respek opgebou het.

Die heel lekkerste onthale was dié van die kleiner bonde, soos Wes- en Oos-Transvaal, Noord-Vrystaat en die destydse Suidoos-Transvaal.

Die onthale was gewoonlik geborg deur een van die ondersteuners of ʼn speler se ryk pa en voorberei deur die onthaalkomitee.

Afgesien van die sout- en soetgoed, was daar ook lasagne, hoenderpastei, bobotie en hoender a la king, want die besoekers het mos ver gery.

In Welkom is daar baie keer buite die onthaalsaal gebraai of die potjiekospotte het geprut.

In Springs se Pam Brink-stadion is jy begroet met keurige orrelspel deur een van die dames voordat die president oom Ben (Ben Erwee) en oom Daan (die afrigter Daan Nolte) en sy Rooi Duiwels natgesweet na ʼn warm stort die saal betree het.

Maar namate die jare aangestap het, het die onthaalsale al hoe kleiner geword, die begrotings het al hoe meer gekrimp wat later daartoe gelei het dat onthale heeltemal opgedroog het.

Nou sit almal by die huis en herleef dit  in hul gedagtes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patches ·

Ai hoe ver dink ek nou terug. My pa het klub rugby gespeel vir ons dorp en daai onthaal n tyd kan ek goed onthou!! Vir ons as kinders was die hele dag een van speel en nuwe maats maak net om laataand op matrassies teen die onthaal saal se muur aan die slaap te raak terwyl ddie grootmense kuier en die dag se spel weer herhaal. Frikkadelle gevulde eiers en kouevleis. Ai waar is die tyd een…………

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.