Dan wil weer om verdedigers dans

Dan du Plessis glimlag breed met die bal in die hand. (Foto: Hansie Linde)

Dan du Plessis is gereed vir aksie en is vasberade om ʼn verskil in sy Stormers-trui te maak.

ʼn Besering het die 28-jarige senter vir ʼn ruk langs die veld gehou, maar hy het 60 minute in die Kapenaars se onlangse Verenigde Rugbykampioenskap-triomf van 16 – 15 teen die Sharks gespeel.

“Dit was baie lekker om weer terug op die veld te wees – ek moes vir net ʼn rapsie minder as drie maande dinge van die kantlyn dophou. Boonop was dit ook ʼn taai wedstryd teen die Sharks – hulle is nie ʼn span wat van fisieke spel wegskram nie,” het Du Plessis gesê.

Die oudleerder van Paul Roos Gimnasium se goeie spel in die middeveld was een van die sleutels tot die Stormers se sukses in die eerste twee weergawes van die Verenigde Rugbykampioenskap.

Toegegee, die span het aanvanklik die wind van voor in sy jongste Europese rugby‑avontuur gekry, maar dinge is weer op koers ná oorwinnings teen La Rochelle en die Bulls.

Die Kapenaars speel weer Saterdag teen die Sale Sharks in ʼn Kampioenbeker-kragmeting op die DHL-stadion.

En Du Plessis verwag nog ʼn vurige tweestryd.

“As jy nie Sale se groot voorspelers in toom hou nie, kan hulle binne ʼn japtrap voorvoetmomentum geniet. Tog is dit juis húlle teen wie jy wil speel – jy wil jouself teen die bestes meet.”

Daarbenewens is daar ook ʼn rits Suid-Afrikaners (onder wie Robert du Preez en Ernst van Rhyn) in die Sale-groep.

“Dit gaan interessant wees om teen ouens kragte te meet wat vantevore hul rugby in Kaapstad gespeel het. Hulle het kennis van die Stormers se rugby-DNS, maar ons is opgewonde oor die kragmeting.”

Die wedstryd begin Saterdag om 19:30 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

  • Die spanne se jongste uitslae:

Stormers:

31 – 7 teen Zebre

26 – 35 teen Leicester Tigers

21 – 20 teen La Rochelle

26 – 20 teen die Bulls

16 – 15 teen die Sharks

Sale Sharks:

54 – 12 teen die Newcastle Falcons

21 – 13 teen Leicester Tigers

25 – 35 teen Saracens

28 – 5 teen Stade Français

27 – 37 teen Leinster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.