De Allende gerat om Argentyne aan te vat

Damian de Allende probeer ’n gaping vind. (Foto: GB Jordaan.)

Damian de Allende is ʼn veteraan van 70 toetse, maar sy laaste wedstryd in aanloop tot die Auckland-toets teen die All Blacks was Meimaand in Japan. En die Kiwi’s het veral in die eerste 20 minute op die Mount Smart-stadion gewys dat daar gʼn kortpad op die oefenveld is om wedstrydgereed te wees nie.

Die 31-jarige agterspeler kry Saterdag op Ellispark weer ʼn kans om sy waarde in die Springbok-trui te onderstreep wanneer hy saam met Jesse Kriel die Suid-Afrikaners se senterkombinasie teen Argentinië is.

“Jy kan ʼn jaar op die oefenveld sweet, maar die enigste manier omf wedstrydfiks te word is om gereeld te speel,” het De Allende vandeesweek tydens ʼn Springbok-mediasessie in Pretoria gesê.

Hy sien ook daarna uit om die Argentyne saam met sy nuwe sentermaat aan te vat. Kriel het juis in ʼn vorige onderhoud gesê dat hy brand om weer speelkans vir die Bokke te kry.

“Ek is bly vir Jesse se onthalwe. Hy lyk baie goed op die oefenveld en net soos die res van die span is hy beslis gereed vir aksie.”

Grant Williams en Manie Libbok is die Springbokke se skakelpaar op Ellispark en hulle sal beslis hul unieke stempel op die wedstryd wil afdruk.

“Dit is ʼn opwindende vooruitsig om saam met Manie en Grant te speel. Hulle lewer dinamiese spel en ek kan nie wag om te sien hoe hulle beheer van die wedstryd kan neem nie.”

Die wedstryd begin Saterdag om 17:05 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Springbokke: Willie le Roux (heelagter), Cheslin Kolbe (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Kurt-Lee Arendse (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman en kaptein), Pieter-Steph du Toit (flank), Marco van Staden (flank), Marvin Orie (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Trevor Nyakane, Vincent Koch, Kwagga Smith, RG Snyman, Faf de Klerk, Lukhanyo Am en Damian Willemse.

Argentinië: Juan Cruz Mallia (heelagter), Mateo Carreras (regtervleuel), Lucio Cinti (buitesenter), Santiago Chocobares (binnesenter), Juan Imhoff (linkervleuel), Santiago Carreras (losskakel), Lautaro Bazan Velez (skrumskakel), Juan Martin Gonzalez (agtsteman), Santiago Grondona (flank), Pablo Matera (flank), Tomas Lavaninni (slot), Lucas Paulos (slot), Francisco Gomez Kodela (stut), Julian Montoya (kaptein en haker) en Thomas Gallo (stut) Plaasvervangers: Ignacio Ruiz, Nahuel Tetaz Chaparro, Joel Sclavi, Pedro Rubiolo, Facundo Isa, Gonzalo Betranou, Thomas Albornoz en Matias Moroni.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H.A. ·

Ag tog, dit is te laat om nou die beste te lewer. Die AB het klaar die reeks in die sakkie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.