Die rugbyhorlosie word Saterdag weer teruggedraai

Die Ligbloues se Naas Botha, die grootste wedstrydwenner in die geskiedenis van die Curriebekerkompetisie met die Vrystaat se skitterende heelagter Gysie Pienaar heel regs. Argieffoto.

Wanneer die Crusaders die Blues Saterdag in Christchurch in Nieu-Seeland se Superrugby Aotearoa-reeks pak, gaan die horlosie ook in Suid-Afrika terugdraai na die Curriebekerreeks toe dit nog die brood en botter van plaaslike rugby was.

Dis bul teen bul, soos hulle in die koerante skryf, proewe in die kleine, daar waar die manne van die seuns geskei word, waar helde gebore word en ander val.

Dis waar rugbygeskiedenis gemaak word, waaroor daar jare later nog om die braaivleisvuur gesels word.

Sedert 1996 is daar sekerlik meer as 2 000 wedstryde in die Superrugbyreeks gespeel, hoeveel van daardie wedstryde onthou ons nog?

Hoeveel boeke is al daaroor geskryf?

Ons oupas en pa’s het met smaak vertel hoe Noord-Transvaal die Curriebeker die eerste keer in 1946 gewen het toe die Westelike Provinsie se heelagter Con de Kock nie ʼn rollende bal wou oppik nie en dit tot Johnny Lourens se wendrie gelei het.

En natuurlik Transvaal se losskakel Natie Rens se doodsnik-wenskepdoel in 1952 wat die Boland geknak het.

Wat van Frik du Preez se “drop, place and score” in 1969 se eindstryd?

Of die Griekwas se skokoorwinning in 1970 oor Noord-Transvaal in 1970 …

Dink maar aan Naas Botha se oorheersing, die WP se goue jare tussen 1982 en 1986, Carel du Plessis se gelykmakende drie in 1989, Natal se skoksege oor Noord-Transvaal in 1990, Transvaal se goue seges, Joost van der Westhuizen wat die Blou Bulle tot ʼn oorwinning oor ʼn WP-span vol Springbokke aangevuur het, Derick Hougaard wat Transvaal stukkend gespeel het op Ellispark, Ollie le Roux wat ʼn dik sigaar op Loftus aangesteek het nadat Vrystaat oor die Bulle gespoel het.

Nee wat, gaan stof maar die Curriebeker af, want net soos in Nieu-Seelandse rugby word geskiedenis gemaak en nie gekoop nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

Sowaar glorieryke jare daardie gewees. Ek stem saam dat in 2 000 wedstryde later in Super rugby, wie kan enige iets onthou wat opgeteken is as iets wat opwindends gebeur het behalwe Habana se drie wat hy in beseringstyd gedruk het en die Natal ondersteuners geleer het hoe om sjampane proppe terug te sit op die bottels. Ek dink terug aan die jare toe ek met trots my Transvaal ondersteunerstrui kon dra op Loftus en Ellispark. Paviljoene was gepak gewees met fanatiese rugby ondersteuners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.