Dié rugbyspelers dalk oud, maar ver van koud

Dan Carter (Foto: sanzarrugby.com)

Ou ysters roes nie, of so iets, lui die spreekwoord.

Dan Carter, die oud-All Black-losskakel, het onlangs op 38-jarige ouderdom weer vir die Southbridge-klub in Canterbury uitgedraf en sy span tot ʼn oorwinning van 54-14 oor West Melton gestuur.

Daar was meer as 1 500 toeskouers waar hulle langs en om die veld gestaan en kyk het hoe die legendariese Carter weer die toutjies trek.

Dit is waar Carter donkiejare gelede sy roemryke loopbaan begin het en die eerste keer na vore getree het voordat hy in 112 toetse gespeel het.

Carter is vanjaar by die Auckland Blues gekontrakteer, maar die kans dat die afrigter Leon Macdonald, wat in sy speeldae een van Carter se spanmaats was, hom vir die opdrafspan in Nieu-Seeland se Aotearoa-reeks gaan kies, is maar skraal.

Carter se taak is om die jonger spelers te mentor, om hulle raad te gee, om hulle van die kort paadjies van rugby te leer.

Morné Steyn. Argieffoto.

Die oud-Springboklosskakel Morné Steyn het ook sy 36ste verjaardag gevier.

Steyn is steeds deel van die Blou Bulle se planne en hy het vanjaar Superrugby gespeel.

Hy bly waardevol en speel ook ʼn groot rol om die jonger spelers touwys te maak.

Die oud-Springbokslot Victor Matfield (38 jaar 90 dae) hou steeds die rekord as die oudste speler wat nog vir die Springbokke gespeel het. Hy het in 2011 uitgetree, maar toe het die gogga hom weer gebyt en het hy in 2015 in die Wêreldbekertoernooi gespeel – sy vierde toernooi.

Matfield het by Johan Ackermann as die oudste speler oorgeneem wat nog vir die Bokke gespeel het.

Ackers, wat nou in Japan afrig, was 37 jaar en 272 dae oud toe hy in 2007 vir die Springbokke gespeel het.

Diego Ormaechea van Uruguay (40 jaar en 13 dae) is steeds die oudste toetsspeler in wêreldrugby, toe hy in 1999 sy span se kaptein was. Toevallig het hy in 2003 sy span by die volgende WB-toernooi afgerig.

Die Fransman Francis Haget (37 jaar en 239 dae) en die Ier Phil Orr (36 dae en 162) was ook ryp in jare toe hulle vir oulaas toetsrugby gespeel het. Só ook Frik du Preez toe hy in 1971 uitgetree het

Maar niemand kan kers vashou vir die 95-jarige oupagrootjie Easton Roy nie.

Hy het vroeër vanjaar vir Stirling Country gespeel in ʼn wedstryd ten bate van liefdadigheid.

Roy het 27 jaar lank vir Stirling se eerste span gespeel en sy loopbaan het oor 60 jaar gestrek voordat hy tien jaar gelede op 85-jarige ouderdom uitgetree het.

Ná die wedstryd het hy ʼn paar slukke uit ʼn bottel port geneem en gesê hy is volgende jaar terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.