Dis Bokke vs All Blacks, nes in 1995

RG Snyman en Kwagga Fourie Smith ná die Bokke se oorwinning oor Engeland. (Foto: Springboks/Facebook)

Hoor jy die magtige dreuning? Dis die All Blacks en die Springbokke wat weer – vir die eerste keer sedert die drama van Ellispark in 1995 – teen mekaar in ʼn Wêreldbeker-eindstryd speel. Dit was daardie gloriewedstryd wat Joel Stransky met ʼn skepskop in ekstra-speeltyd beklink het.

ʼn “Eerste keer” in Wêreldrugby-geskiedenis is boonop op die spel: wie ook al Saterdag wen, sal die eerste land word om die Webb Ellis-trofee vir ʼn vierde keer omhoog te hou.

Die Nieu-Seelanders is net-net die gunsteling by beroepswedders om die titel in te oes. Dit maak sin, want die manne in swart se oorwinning met 44-6 teen Argentinië in die halfeindstryd wys dat hulle steeds op ʼn opwaartse kurwe is. Die Bokke daarenteen het deur die kwarteind en halfeind geskraap met ʼn enkele punt. Selfs afrigter Jacques Nienaber het ná die wedstryd teen Engeland gesê plaasvervangers is vroeg opgestuur, want daar was nie energie in die span nie.

Hulle sal baie vinnig daardie energie moet herwin en batterye herlaai voor Saterdagaand se eindstryd. Daar sal sekerlik ook baie gepraat word oor hoe die span moet lyk. Hou die rugbyvernuftrust by dieselfde span wat in die kwarteind en halfeind gespeel het, of gaan kyk hulle weer na daardie 7-1-bank wat die All Blacks ʼn loesing van 35-7 voor die toernooi op Twickenham toegedien het?

Handré Pollard het Manie Libbok ook ná net 30 minute vervang. Is dit nou tyd om Pollard in die beginspan te kies en Libbok van die bank af in te span? Die All Blacks was nog altyd bekend daarvoor dat hulle in die laaste 20 minute van die wedstryd die pas versnel en dan gaan vars bene nodig wees.

Een speler wat beslis in die groep van 23 moet wees, is die skrumkoning Ox Nché. Bongi Mbonambi het al 80 minute van die halfeind gespeel – hy kan beslis nie daardie pas volhou vir die eindstryd nie – so daar moet behoorlik op die bank voorsiening gemaak word vir Deon Fourie en Marco van Staden. ʼn Bank van 7-1 is waarskynlik ‘n bietjie van ʼn waagstuk vir die eindstryd, maar 6-2 kan ook werk. Gelukkig het die Bokke talle veelsydige agterspelers wat spelers soos driedrukker Will Jordan en die Barrett-boeties in toom kan hou.

Deon Fourie probeer die Engelse afskud. (Foto: Twitter/ Springboks)

In Nieu-Seeland word berig dat afrigter Ian Foster waarskynlik sal hou by sy wenspan. Sam Whitelock het teen Argentinië begin, maar kan dalk met Brodie Retallick plekke ruil op die plaasvervangersbank. Net soos Nienaber is die eindstryd Foster se laaste wedstryde in beheer. Die arme Foster is al vervang voor die toernooi afgeskop het en nou is sy span in die eindstryd. Dit was ʼn klompie wipplank-jare vir All Black-rugby met die reeksnederlaag teen Ierland op eie bodem en die rekord-nederlaag teen die Springbokke in Augustus as die groot laagtepunte. Foster was byna al voor die toernooi afgedank.

Dit sal waarskynlik nie as ʼn reusevoordeel beskou word nie, maar dit moet nie buite rekening gelaat word dat die All Blacks 24 uur langer hersteltyd gehad het as die Bokke ná die halfeindstryde nie.

Talle spelers van albei lande sal internasionale rugby vaarwel toeroep ná afloop van die eindstryd. Elkeen van hulle sal dus hierdie deel van hul loopbaan op ʼn hoogtepunt wil afsluit. Wat ook al gebeur, rugby het baie nuwe vriende gemaak met hierdie toernooi in Frankryk. Wêreldrugby se sakke behoort ook vol te wees as jy dit meet aan die vol stadions vir byna elke wedstryd.

Ek hoop tog Francois Pienaar sal ʼn paar woorde met Siya Kolisi wissel voor die groot botsing. Hy weet mos wat dit vir Suid-Afrikaanse rugby beteken om die All Blacks in ʼn eindstryd te klop. Die vraag is of Suid-Afrikaanse ondersteuners se senuwees kan hou as die wedstryd dalk ook eers in ekstra speeltyd beslis word? Ná twee Saterdae van hoogdrama is daar nie meer naels om te kou nie!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

vuurvliegie ·

Al geld wat betrokke was is die bride geld vir die skeidsregter

George ·

en op die Franse die week voor die Engelse. Kom Maandag en die Bokke het gewen, dan se jy weer ja jy het geweet.

Niklaas ·

Hou maar vir Pienaar uit die eindstryd voorbereiding. Hy het my verloor met sy vuisie bal dinge. Die Allblacks is gunsteling , ja , maar ook oorgerus. Omdat almal die Bokke se vorige 2 naelskrap-wen wedstryde bekyk het , mag die AB’s voel dat die Bokke nie juis as gevaarlike opponente gereken kan word nie , en lekker ontspan.

George ·

Die Bokke is gunstelinge. How wil jy die “underdog” wees as jy nr 1 in die wereld is EN die defending Champs?! NZ is die underdog.

JohanR ·

Daar moet sekerlik ‘n paar vars bene ingebring word. Ons het wel gewen teen die Engelse maar die ouens was tam. AB het nie ‘n moelike wedstryd teen Argentina gehad maar wel teen Ierland, soe miskien meer varser. Hulle het ook ‘n extra dag rus gehad. Kan die Bokke ‘n 19-18 doen? Vir baie van die Springbokke sal dit nou miskien nie hulle laaste Springbok wedstryd wees nie maar wel hulle laaste Wereldbeker.

Republikein in die Wes Kaap ·

NZ se agterlyn is kookwater. Skep baie geleenthede. Die voorry moet net hou. Maar hulle het baie verbeter die afgelope ruk. Die Suid-Afrikaners is een-dimensioneel.

SjN ·

Die Bokke kan wen, hul moet net afsien van hul huidige spel patroon met doellose skoppe en meer konsentreer op volle agterlyn bewegings en begin met die opvorm spelers, Kom manne, bring die beker saam terug asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.