Dis nie als slegte nuus vir die Bokke

Die Springbokke teen Ierland. (Foto: Twitter: Springboks)

Daar is slegte nuus en daar is goeie nuus vir Springbok-ondersteuners. Die slegte nuus is dat hulle teen Ierland verloor het. Die goeie nuus is dat dit in ʼn groepwedstryd was. Dit het dalk gevoel soos ʼn uitklopwedstryd, maar dit is bloot omdat jy die twee topspanne op die wêreldranglys teen mekaar sien speel het. Albei spanne bly in die toernooi.

Eddie Jones se Wallabies het groter probleme. Hulle kanse vir die uitkloprondes is aan flarde nadat Wallis hulle Sondagaand in Lyon 40-6 getrap het. Wallis het daarmee die eerste span geword om vir die kwarteindstryde te kwalifiseer.

Australië kon nou net een van hulle laaste agt toetse met Jones as afrigter wen – en dit was ʼn oorwinning oor Georgië. Die Bokke het minstens oplossings vir hulle probleme – Jones het meer probleme as oplossings.

Dink terug aan 2019 in Japan – geen span het toe ooit die Webb Ellis-trofee gewen nadat hulle ʼn groepwedstryd verloor het nie. Dit is presies wat met die Bokke gebeur het in hulle groepwedstryd teen die All Blacks. Suid-Afrika het toe 13-23 verloor, maar steeds die toernooi gewen. Die beker word nie in die groepfase uitgedeel nie.

Die Springbokke loop van die veld af ná hul Nederlaag teen Ierland. (Foto: Twitter/ Springboks)

Toevallig was Ierland ook aan die begin van daardie toernooi die nommer een-span op die ranglys. Hierdie was die eerste keer wat die Bokke by ʼn Wêreldbeker teen die Iere speel en Suid-Afrika kon hulle laas in 2016 klop.

Daar is reeds baie gemor oor die Bokke se skopwerk pale toe – reeds voor die nederlaag teen die Iere. Nou begin dit regtig ʼn kritieke vraag word. Jy kan nie die toernooi wen as jy nie punte kan aanteken met betreklik maklike skoppe pale toe nie. Selfs op TV kon jy sien toe Manie Libbok die bal stel dat hy dit links verby die pale gaan skop. Faf de Klerk was ongelukkig om die dwarslat te tref met ʼn langafstand-skop, maar hy is ook nie betroubaar genoeg as jy in die uitklopwedstryde begin speel nie.

Hierdie week gaan daar baie druk wees op die Bok-breinstrust om vir Handré Pollard teen Tonga speelkans te gee sodat hy kan wys hy is slaggereed vir die kwarteindstryd. Dit gaan nie oor Pollard wat vir Libbok vervang nie – dit gaan oor waar word plek gemaak vir Pollard in die span – binnesenter was mos al voorheen die plan.

Dit is nie net die stelskopwerk waar die Bokke verbrou het nie. Hulle het te veel blapse begaan en Ierland se rotsvaste verdediging het gewys waarom hulle die topspan in wêreldrugby is. Die Iere het die Bokke ook by die afbreekpunte uitoorlê en hulle momentum gestuit. Hierdie is ʼn aspek van die spel waar die Bokke vinnig ʼn oplossing sal moet vind. Die Iere kry reg wat die All Blacks nie op Twickenham kon doen nie en daarom lyk die telbord heel anders.

Skeidsregter Ben O’Keefe het die wedstryd uitstekend hanteer. Sy haastige fluitjie om die wedstryd te beëindig met die Bokke op Ierland se doellyn, het wel gelyk asof hy laat is om ʼn trein te haal. Sy hantering van die wedstryd word so hoog aangeslaan dat hy nou as ʼn derde kandidaat beskou word om in die eindstryd te blaas. Die ander twee kandidate is Engelsman Wayne Barnes en Suid-Afrika se Jaco Peyper.

Saterdag se wedstryd beteken wel dat die Bokke heel waarskynlik teen die tuisspan Frankryk gaan speel in die kwarteindronde. Skrumskakel en kaptein Antoine Dupont het ʼn operasie aan sy gekraakte wangbeen gehad. Daar is selfs sprake dat hy reeds kan speel in ʼn kwarteindstryd op 14/15 Oktober.

Skotland het sy kanse vir die kwarteindstryde lewendig gehou met ʼn 45-17 oorwinning oor Tonga. Sou Skotland verras en Ierland in hulle laaste groepwedstryd klop, kan Suid-Afrika dalk steeds Groep B wen. Die Iere sal egter ʼn af dag moet beleef vir hierdie Skotte om daardie span te klop wat die Bokke die loef af gesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raakvatter ·

Tensy die Iere die wedstryd “gooi” om nie teen NZ te speel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.